Nee vir Kavangowater vir Windhoek
Leiers en inwoners van Kavango-Oos het NamWater se voorgestelde Kavango Link Project verwerp om water van die Kavangorivier na sentraal-Namibië te herlei. NamWater is daarvan beskuldig dat dit planne vir die projek laat herleef sonder om voldoende aandag te gee aan kommer wat tydens vorige konsultasies geopper is.
Die kritiek volg na Vrydag se jongste openbare konsultasievergadering oor die Omgewings- en Maatskaplike Impakstudie (ESIA) asook die Omgewings- en Maatskaplike Bestuursplan (ESMP) vir die projek. Verskeie sprekers het die projek se wetenskaplike basis en konsultasieproses bevraagteken en aangevoer dat die waterbehoeftes van die Kavangostreke geprioritiseer moet word, voordat water elders herlei word.
Volgens die raadslid vir die Rundu Landelike-kiesafdeling Paulus Mbangu bly gemeenskappe in Kavango-Oos en Kavango-Wes sterk gekant teen die voorstel.
Mbangu het NamWater en die projek se konsultante daarvan beskuldig dat hulle nie voldoende met streekleiers en tradisionele owerhede geraadpleeg het voordat die voorstel bevorder is nie.
"Daar was geen behoorlike konsultasie nie, hetsy met die streekleierskap of met die tradisionele owerheid," het hy gesê.
Mbangu betwis ook die wetenskaplike inligting waarop die projek gebaseer is en voer aan geen omvattende oudit voorgelê is om die werklike hoeveelheid water te bepaal wat in die Kavangorivier beskikbaar is nie.
"Ek dink nie julle verslag verskaf 'n oudit van hoeveel water ons in hierdie rivier het nie. Alles wat julle doen, is net raaiwerk," het hy gesê.
Hy het verder bevraagteken waarom die twee streke gevra word om 'n projek te ondersteun wat daarop gemik is om ander dele van die land van water te voorsien. Dit terwyl baie plaaslike gemeenskappe steeds nie voldoende waterinfrastruktuur het nie.
"Ons is die enigste twee streke wat nie waterpyplyne het nie," sê Mbangu.
Hy het volgehou dat aanbevelings in die projek se studies nie as betroubaar beskou kan word, sonder duidelike data oor die rivier se kapasiteit nie.
"Jy kan nie bestuur wat jy nie kan meet nie," het hy gesê.
Mbangu het maatskappye in sentraal-Namibië wat groot hoeveelhede water benodig, aangespoor om hul fabrieke na die Kavangostreek te verskuif, eerder as om water weg van die rivier te herlei.
Die voormalige parlementslid van die All People’s Party (APP) Maria Kamutali wou op haar beurt weet waarom NamWater terugkeer na wat sy beskryf as 'n voorstel wat inwoners reeds jare gelede verwerp het.
“Inwoners het daardie voorstel geweier. Hoekom is julle weer hier met dieselfde voorstel?” het Kamutali gevra.
Sy het ook bevraagteken of die konsultasieproses werklik bedoel was om openbare insette te kry.
“Is julle hier om ons te raadpleeg, of is julle hier om ons in te lig oor wat julle reeds besluit het?” het sy gevra.
Kamutali het ook kommer uitgespreek oor die toekoms van die Kavangorivier en gesê sy kon oor dekades merkbare veranderinge in watervlakke sien.
"Voor onafhanklikheid kon mense nie die Kavangorivier te voet oorsteek nie. Vandag, rondom September, kan sommige mense oor sekere dele van die rivier hardloop," het sy gesê.
Terwyl Kamutali die behoefte erken om watervoorrade vir Windhoek en ander dele van die land te verseker, het sy die owerhede gemaan om klimaatsverandering en die langtermyn volhoubaarheid van die ontginning van water uit die rivier te oorweeg.
NamWater het egter die projek verdedig en sê dit is daarop gemik om die hele land eerder as net die hoofstad te bevoordeel.
NamWater se hoof van sy sake-eenheid Noordoos, George Diergaadt, sê die doel is om langtermyn- watervoorrade vir Namibië se administratiewe en ekonomiese sentrum te verseker. Volgens hom sal ‘n waterkrisis in Windhoek nasionale gevolge hê.
“As Windhoek sonder water sit, sal ons uiteindelik ook as gevolg daarvan sukkel,” het hy gesê.
Volgens Diergaardt huisves die hoofstad sentrale regeringsinstellings, universiteite en belangrike dienste, wat beteken dat watersekerheid in Windhoek die breër ekonomie en nasionale ontwikkeling beïnvloed.
Hy het beklemtoon dat die projek nie beskou moet word as iets wat net Windhoek-inwoners bevoordeel nie.
“Ons werk vir die verbetering van die hele land,” sê Diergaardt.
Volgens hom sal inwoners in Kavango-Oos en -Wes ook by groot beleggings deur NamWater baat. Tans word ‘n projek vir waterinfrastruktuur ter waarde van byna N$600 miljoen in Rundu implementeer. Dit sal watervoorsieningsdienste deur 'n nuwe behandelingsaanleg en pyplynnetwerke uitbrei wat tot by tot nedersettings in die twee streke strek.
Die verwagting is dat die projek toegang tot water in gebiede wat strek na Nkurenkuru, Mururani en Ndiyona sal verbeter.
Diergaadt sê betrokkenheid by belanghebbendes sal voortduur en tradisionele owerhede, streeksrade en plaaslike gemeenskappe sal die geleentheid hê om tot die ontwikkeling van die Kavango Link-projek by te dra.
"Dit is 'n kollektiewe besluit wat deur middel van konsultasie geneem moet word," het hy gesê. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie