Nederlandse hulp vir Walvisbaai vorder

Finale beleggingsbesluit binne maande
Een van Europa se grootste hawens is daartoe verbind om kapasiteitsgroei by die Walvisbaaise hawe te versnel.
Augetto Graig
Die vennootskap tussen die Nami­biese Haweower­heid (Namport) se Wal­vis­­­baai-hawe en die Antwerpen Brugge-hawe vorder met planne om Namibië se grootste hawe verder te ontwikkel.

Die direkteur van die Antwerpen ­Brugge-hawe, Mario Lievens, en die hawe-ingenieur vir Walvis­baai, Elzevir Gelderbloem, het Donderdag by die Globale Afrika Waterstofberaad in die hoofstad aangekondig die finale ­beleggingsbesluit vir die beplande samewerking sal binne maande ’n werklikheid word.

’n ­Omvattende markstudie is reeds voltooi wat deur die Europese Unie (EU) gefinansier is en die sterk kommersiële potensiaal vir verdere ontwikkeling en uitbreiding van die Noordhawe by Walvisbaai bevestig, sê hulle.

Die eerste projek sal die konstruksie van ’n nuwe veeldoelige terminaal behels. Verder is die meesterplan vir die Noordhawe hersien om ’n geïntegreerde platform te vestig wat op die lange duur vir die toekoms geskik is, sê hulle.

Volgens ’n gesamentlike verklaring is die Noordhawe bestem om ’n veeldoelige diepseehawe te word met die vermoë om ’n wye verskeidenheid grootmaat- en energievragte te kan hanteer.

Dit is in reaksie op die groeiende vraag na “groen” molekules soos groen waterstof en ammoniak, sowel as die vinnig ontwikkelende ontginning van kritieke minerale en landbousektore in Suider-Afrika.

Die Noordhawe se kapasiteit om nie-vraghouergoedere te hanteer, sal toeneem, terwyl die ­bestaande beperkte Suidhawe se kapasiteit vinnig ten volle benut word.

Deur werkskepping, kapasiteitsbou en die bevordering van “groen” nywerheidsgroeperings, word verwag dat die projek ’n ­beduidende bydrae tot Namibië se ontwikkelingsdoelwitte sal lewer, terwyl dit streekintegrasie en veerkragtigheid oraloor ­Suider-Afrika sal ­versterk, sê hulle.

Die grondbeginsels van ’n langtermynvennoot­skap word ontwikkel, met die doel om ’n gesamentlike onderneming tussen die twee regerings te vestig.

“Beide haweowerhede beoog om deur hierdie vennootskap saam te werk aan die beplanning, ontwikkeling, ­finansiering en bestuur van die uitbreiding van die Noordhawe en sy ­ondersteunende ­infrastruktuur,” lui die verklaring.

Lievens sê die oorgang na hernubare energie en ’n sirkulêre ekonomie is noodsaaklik vir beide Europa en Afrika. Volgens hom het die hawebedryf dit ook nodig.

“Ons het ’n belang daarin om saam met Namport te werk en hulle te help om die ontwikkeling van kritieke infrastruktuur te versnel.

“­Bykomende kapasiteit is nodig vir alle soorte kommoditeite, soos droë grootmaat, losmaatvrag (break bulk), vloeibare ­grootmaat, al die ­kommoditeite wat nodig is vir die ­energie-oorgang,” sê hy.

Lievens sê die ­produksie van groen molekules moet ook vir plaaslike gebruik voorsiening maak. Hy sê die nodige openbare ­infrastruktuur sal duur wees en sal beleggings moet lok.

Gelderbloem het op sy beurt gesê die ­Antwerpen Brugge-hawe is een van die grootste hawens in Europa, met toegang tot die mark vir diegene wat in groen molekules soos groen waterstof belangstel en met die ondersteuning van ’n groot nywerheidspilpunt.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer