Foto argief
Foto argief

NaTIS genereer maandeliks N$87 miljoen

Te midde van frustrasies oor lang rye, wagtye
Nikanor Nangolo
Die Namibië Verkeersinligtingstelsel (NaTIS) ­gene­reer elke maand ongeveer N$87 miljoen in inkomste uit sowat 140 000 NaTIS-transaksies wat landswyd uitgevoer word te midde van nimmereindigende frustrasie van lang rye en wagtye.



Só het die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, Woensdag in die parlement gesê en bygevoeg dat Namibië teen September vanjaar landswyd 419 716 geregistreerde voertuie gehad het, terwyl die aantal ­bestuurders op 379 023 gestaan het.



Hy het erken dié ­prestasie kom ten spyte van volgehoue ondoeltreffendheid in diens­lewering. “Bogenoemde statistieke is ondanks die lang rye, lang wagtye in daardie rye, ­vermybare reiskoste, frustrasies, korrupsie, swendelaars sowel as werklike of waargeneemde doelgerigte pogings om ons kliënte te faal.”



Om hierdie uitdagings te takel, het hy gesê dat sy ministerie deur NaTIS, ’n transformasieproses ­implementeer wat daarop gemik is om dienslewering te verbeter.



“Die onmiddellike transformasieprogramme wat aan die gang is, is ’n bespreek-en-betaalmodule, ’n gerekenariseerde leerlinglisensie-toetsstelsel, e-rybewyse en ’n geoutomatiseerde bestuurstoetsstelsel,” het Nekundi gesê.



Volgens hom lok die ­NaTIS-sentrums in Windhoek steeds die meeste kliënte gegewe die stad se groeiende ­bevolking en die aanvraag na dienste.



“Daarbenewens neem ons die minderbevoorregtes van die bevolking in ag, veral in onder meer gebiede soos Havana, Hakahana en Goreangab.



“As sodanig het die ­ministerie, in samewerking met die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming, grond in ­Wanaheda wat naby Hakahana, Goreangab en Havana geleë is, verkry om ’n nuwe NaTIS-dienssentrum vir ons mense te ontwikkel,” het hy gesê.



“Die ontwerpe is klaar en binnekort sal die toepaslike toerusting op die perseel wees,” het Nekundi gesê.



Met verwysing na digitale hervormings, het hy gesê dat die opgradering van die bespreek-en-­betaal-module kliënte in staat sal stel om besprekings en betalings vanuit die gemak van hul huise te maak deur digitale tegnologie te gebruik.



“Dié opgradering sal help om die onnodige lang rye en die koste verbonde om NaTIS persoonlik te besoek, te beperk. Ons is egter bewus daarvan dat sommige lede van ons gemeenskap steeds die huidige praktyk verkies.



“Daarom sal die instapdienste steeds vir hierdie kliënte beskikbaar wees. Mits ­omstandighede dieselfde bly, verwag ons dat die opvolgfase van hierdie opgradering in Desember vanjaar sal begin,” het Nekundi gesê.



Hy het ook die bekendstelling van ’n gerekenariseerde leerlinglisensie-toetsstelsel aangekondig wat ontwerp is om ­korrupsie te bekamp.



“Ons het ’n kommersiële leerlinglisensietoets ­gefinansier wat ons kliënte in staat sal stel om ’n kommersiële toets af te lê wat slegs sowat 30 minute sal neem om te voltooi en gevolglik die menslike nasien en ­verspreiding van vraestelle wat weer met ­korrupsie ­geassosieer word, uit te skakel,” het Nekundi ­bygevoeg.



Hy het gesê die toets sal outomaties geëvalueer word, met resultate wat onmiddellik aan die kandidaat beskikbaar sal wees. Die opvolg­fase sal teen Desember by die Okahandja Nasionale Sentrum deur die Nasionale Mobiele Toetstrust begin.



Oor die geoutomatiseerde bestuurstoetsstelsel het Nekundi gesê die ­ministerie beplan om oor te skakel van die toetstelsel wat met die hand ­uitgevoer word na ’n outomatiese een wat toegerus is met sensors, kameras en satelliettegnologie.



“Om die las van die opgraderings vir ons kliënte en NaTIS te verlig, ondersoek ons ander gebruike om kliënte te help om NaTIS-getoetste voertuie te gebruik vir die toetsing en evaluering van ons kliënte in plaas van die huidige praktyk van kliënte wat hul eie voertuie gebruik.



“Ons verwag dat hierdie opvolgfase gedurende die volgende finansiële jaar sal begin,” het hy gesê.



Nekundi het ook planne bekend gemaak om e-rybewyse in te stel om die huidige ID-tipe kaarte te vervang.



“NaTIS sal help met die migrasie van die huidige harde ID-tipe rybewyse, wat geneig is om in ons motors, beursies en by ons bure vergeet te word.



“Daarom beweeg ons oor na die e-rybewyse wat jy op jou toestel kan dra en altyd beskikbaar is.



“Daarom is daar geen plek om dit by die huis of enige ander plek te vergeet nie,” het hy gesê.



[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer