NamPost: Net 15 voertuie landswyd vir staatstoelaes

Chaos heers veral in noordelike dorpe
Phillipus Josef
Chaos het vandees­week op Rundu geheers toe ­inwoners in groot getalle na die poskantoor op die dorp gestroom het om hul maatskaplike toelaes af te haal.



Bejaardes en mense met gestremdhede moes ure lank in die son in lang, ongeorganiseerde rye wag, meestal sonder enige sukses.



NamPost se kommunikasiebeampte, Joseph Teofelus, het die blaam vir die chaos en frustrasie as ’n direkte gevolg van beperkte hulpbronne beskryf.



In ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) het hy gesê NamPost word tans “op een been bedryf” en het net 15 voertuie landswyd om maatskaplike toelaebetalings te versprei.



“Ons het vinniger stelsels ingestel wat begunstigdes binne ’n minuut bedien, maar totdat meer voertuie ontplooi word, bly landelike toegang en ordelike uitbetalings ’n ernstige uitdaging,” het hy gesê.



Die voortgesette logistieke krisis met die uitbetalings het ook sy menslike tol geëis.



Talle bejaardes is erg deur die lang wagtyd en staan in die son geraak. Personeel van ’n winkel in die omgewing van Nkurenkuru het gesê ten minste drie bejaardes is hospitaal toe geneem nadat hulle ongesteld geraak het weens die lang wagtyd.



Honderde ontvangers van pensioen- en ongeskiktheidstoelaes het hul frustrasie uitgespreek oor die lang wagtye, onvoldoende sitplekke en die gebrek aan basiese geriewe soos drinkwater en toilette.



Die probleme het Maandag al op die dorp kop uitgesteek, nadat die ministerie van finansies die uitbetalings van maatskaplike toelaes amptelik op 1 Oktober van Epupa Investment Technology na NamPost oorgedra het.



Terwyl die oorgang bedoel was om betalings stroombelyn te maak, het dorpe soos Rundu en Katima Mulilo ernstige ontwrigting ervaar as gevolg van die beperkte vloot voertuie wat landelike gebiede moet bedien.



Teofelus het verduidelik dat ten spyte van die bekendstelling van nuwe, gevorderde toerusting wat begunstigdes in minder as 30 sekondes kan bedien, slegs 15 voertuie landswyd operasioneel is.



“Ons het bykomende voertuie van die regering verkry, maar totdat hulle ontplooi word, sal die situasie moeilik bly, veral in noordelike dorpe waar groot getalle begunstigdes by poskantore saamtrek,” het hy gesê.



Die Rundu-poskantoor het van die mees chaotiese tonele gesien, met inwoners van omliggende dorpe wat die uitbetalingskedule vir verspreide betalings (staggered payout schedules) ignoreer.



Teofelus het die gemeenskap aangespoor om geduldig te bly en gesê dat mobiele spanne by tradisionele betaalpunte in dorpe werk en dat tegniese probleme met nuwe toerusting grootliks opgelos is.



Hy het ook die maatreëls uitgelig wat NamPost geneem het, insluitend die opening van bykomende toonbanke, die werwing van bykomende personeel en om ou betaalpunte steeds aktief te hou.



Ondanks hierdie uitdagings sê NamPost dat meer as 20% van diegene wat vir maatskaplike toelaes in aanmerking kom, suksesvol geregistreer en oor 300 toonbankpunte in Namibië betaal is binne die eerste drie dae (13 tot 15 Oktober 2025).



“Ten spyte van aanvanklike uitdagings wat met ons mobiele eenhede ondervind is, is ons bly om te sê al ons mobiele eenhede is nou ten volle operasioneel,” het Teofelus gesê.



“Sedert die ontplooiing het ons mobiele eenhede reeds meer as 5 000 begunstigdes betaal, veral binne die Rundu-gebied.”



Op Nkurenkuru het soortgelyke uitdagings ondervind met begunstigdes wat ook hier vir ure onder moeilike omstandighede buite die poskantoor gewag het. Teofelus het beklemtoon dat NamPost daartoe verbind is om hierdie kwessies te takel.



“Ons werk nou saam met plaaslike leiers om die gemeenskap kalm te hou en te verseker dat almal hul geld sal ontvang. Ons doel is om die situasie teen die einde van Oktober op te los,” het hy gesê.



In Katima Mulilo het inwoners ook lang rye en vertragings aangemeld, hoewel amptenare gesê het uitbetalings het hier ietwat gladder verloop danksy beter plaaslike koördinering.



Volgens waarnemers het die tekort aan voertuie ’n bottelnek geskep wat die stelsel se kapasiteit effektief beperk, ten spyte van moderne tegnologie en verhoogde personeel.



Sommige inwoners het die doeltreffendheid van die nuwe masjiene geprys sodra dit aanlyn is.



“Die proses is vinnig wanneer die stelsel werk,” het Discho Nyundu, ’n inwoner van Rundu, gesê.



“Maar die beperkte aantal voertuie wat landelike gebiede bereik, toon dat meer beplanning nodig is.”



Teofelus het gesê NamPost beoog om die stelsel teen die einde van Oktober te stabiliseer, en werk saam met plaaslike leiers om die betrokke gemeenskappe kalm te hou en te verseker dat alle toelaes uitbetaal word.



[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer