Namcor: Oudbaas soek N$1,6 miljoen
Imms Mulunga, die voormalige besturende direkteur van Namcor, eis deur sy prokureurs N$1,6 miljoen vir wat hy beweer kwaadwillige dissiplinêre verrigtinge teen hom was. Mulunga het Namcor sewe dae vanaf die ontvangs van sy eisbrief gegee om te betaal, of anders gaan hy oor tot regsaksie.
Mulunga is een van die voormalige Namcor-bestuurders wat in Julie 2025 in verband met die Namcor–Enercon-olieskandaal in hegtenis geneem is en is die afgelope sewe maande in aanhouding.
Volgens ’n brief gedateer 5 Februarie en gerig aan Namcor se waarnemende besturende direkteur, Maureen Hinda-Mbuende, sê sy prokureurs hul instruksies is dat Namcor gedurende November 2023, deur sy direksie en sy aangestelde regsverteenwoordigers, formele dissiplinêre verrigtinge teen Mulunga ingestel het. Dit via ’n kennisgewing van dissiplinêre verhoor gedateer 20 November 2023. Die kennisgewing is deur Kangueehi & Kavendjii Inc namens Namcor uitgereik.
Die aanklagte teen Mulunga het ernstige bewerings van bedrog ingesluit, alternatiewelik growwe nalatigheid, en verder alternatiewelik nalatigheid. Dit het voort gespruit uit die oorplasing van US$6,7 miljoen aan Sungara Energies Ltd in Augustus 2022 met betrekking tot die Sonangol-transaksie.
Volgens die brief is die saak "aangehoor en gelei deur ’n onafhanklike voorsitter, die afgetrede hooggeregshofregter Gerhard Maritz, wat die verhoor as die enigste beoordelaar van feit en reg gevoer het". Die partye het ooreengekom dat sy beslissing finaal sou wees, slegs onderhewig aan enige eksterne verrigtinge.
Die dissiplinêre verhoor het tussen Januarie en Maart 2024 voortgegaan, waartydens omvangryke dokumentêre bundels ingedien is en mondelinge getuienis deur Namcor aangebied is om sy saak te bewys.
Volgens die brief het die voorsitter op 7 Augustus 2024 ’n omvattende skriftelike beslissing gelewer wat alle aanklagte teen Mulunga in hul geheel van die hand gewys het.
“Wat krities is, is dat die voorsitter bevind het dat Namcor versuim het om enige wangedrag op ’n oorwig van waarskynlikhede te bewys en dat ons kliënt binne die omvang van die gesag opgetree het wat uitdruklik aan hom verleen is deur die direksie se rondgaande resolusie van 19 November 2021.
"In dié verband het die voorsitter onder meer bevind dat enige gesag wat ons kliënt moontlik ingevolge die reg gehad het, aangevul is deur die gesag wat uitdruklik in hom gevestig is deur die werkgewer se direksie, en dat sy aanstelling as ‘gemagtigde verteenwoordiger’ in ‘uiters wye en algemene terme’ geformuleer is,” het die prokureurs gesê.
“Die voorsitter het verder aangeteken dat die direksie, by die omskrywing van die besturende direkteur se gesag, vry was om die omvang, duur, doel en strekking daarvan te bepaal, en as dit gesag ‘onbeperk in tyd en wyd in omvang’ verleen het, kon dit kwalik kla waar handelinge te goeder trou binne daardie verleende strekking verrig is,” aldus die brief.
Die voorsitter het gevolglik tot die slotsom gekom dat “geen van die dissiplinêre klagtes teen die werknemer deur die werkgewer op ’n oorwig van waarskynlikhede bewys is nie. Dit volg dat al die klagtes teen hom in hierdie verrigtinge van die hand gewys word.”
Die prokureurs voer aan dat dit dus sonder twyfel is dat die dissiplinêre verrigtinge teen hul kliënt mala fide ingestel en vervolg is, en sonder enige redelike vermoede dat hy wangedrag gepleeg of enige interne Namcor-beleid oortree het.
“Nietemin het Namcor volhard met die onoordeelkundige en merietelose dissiplinêre verrigtinge, en sodoende ons kliënt aan ernstige reputasieskade blootgestel en ernstige finansiële verliese veroorsaak ten bedrae van N$1,6 miljoen, synde die regskoste wat aan sy raadgewers betaal is,” lui die prokureursbrief.
Namcor se optrede kom volgens die brief neer op kwaadwillige vervolging en dat die maatskappy ten spyte van duidelike dokumentêre bewyse van enige wangedrag met die dissiplinêre aanklagte teen Mulunga voort gegaan het.
“As ’n direkte en voorsienbare gevolg van Namcor se onregmatige handelinge en optrede, het ons kliënt regskoste aangegaan om homself tydens die dissiplinêre verhoor te verdedig. Daardie koste beloop N$1,6 miljoen, welke bedrag aan sy regsverteenwoordigers betaal is. In die omstandighede is ons opdrag om, soos ons hiermee doen, betaling in die som van N$1,6 miljoen binne sewe kalenderdae na ontvangs van hierdie brief te eis,” lui die brief.
Die prokureurs het gewaarsku dat, sou Namcor versuim of nalaat om binne die voorgeskrewe tyd aan die eis gehoor te gee, hulle duidelike instruksies het om sonder verdere kennisgewing regsaksie in die hooggeregshof in te stel.
Bank Windhoek het Mulunga onlangs hoërhof toe gesleep vir N$1,39 miljoen se onbetaalde skuld. Dit poog ook om op sy huis in Rehoboth beslag te lê en te verkoop en ook ’n Toyota Tundra terug te neem ná beweerde volgehoue wanbetalings op sowel ’n verbandlening as ’n voertuigfinansieringsooreenkoms. Namcor se woordvoerder Utaara Hoveka het gister by navraag gesê die maatskappy het nog nie die prokureursbrief ontvang nie. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie