Marco Raffinetti, uitvoerende hoof van Hyphen, wys waar die waterstofprojek na ­beplanning opgerig gaan word. Foto Augetto Graig
Marco Raffinetti, uitvoerende hoof van Hyphen, wys waar die waterstofprojek na ­beplanning opgerig gaan word. Foto Augetto Graig

Namas teiken groenwaterstofprojek

Die vraag na verwante produkte ontwikkel stadiger as verwag in Europa
Die Nama ­Tradisio­nele Owerheid is ­tevrede dat 'n Duitse ­hernubare energie onderneming nie meer beplan om saam met Hyphen te werk nie.
Augetto Graig
Die Nama Tradisio­nele Owerheid (NTLA) het die onttrekking van ­Duitsland se RWE-hernubare-­energiemaatskappy uit ’n Memorandum van ­Verstandouding (MOU) oor ’n moontlike voor­sieningsoor­een­koms met Hyphen Hydrogen Energy as ’n ­oorwinning vir inheemse volke beskryf.

In ’n ongedateerde en ongetekende ­verklaring wat verlede maand ­versprei is, beweer die owerheid dat “die besluit om te onttrek volg op ’n ope brief wat op 2 April 2025 gestuur is, waarin die NTLA die RWE ­aangespoor het om te onttrek totdat die regte van die Nama-volk ten volle ­gerespekteer word.”

Hyphen het egter Maandag teruggekap met ’n verklaring van sy eie, waarin die rede vir die onttrekking betwis word.

Hyphen se woordvoerder, Ricardo Goagoseb, dring daarop aan dat daar “geen verband is tussen inligting wat deur die NTLA gedeel word en RWE se besluit om geen projekte in Namibië na te streef nie”.

Hyphen se ­verklaring haal glo ­kommunikasie van RWE-­woordvoerder Olaf Winter aan: “Ons kan bevestig dat RWE tans geen projekte in Namibië nastreef nie. Die vraag na waterstof en ­verwante produkte soos ­ammoniak ­ontwikkel ­stadiger in Europa as verwag. Teen hierdie ­agtergrond het ons RWE se relevante ­projekte hersien. Dit het ook die projek met Hyphen in Namibië ­ingesluit. Daar is geen oorsaaklike verband tussen ons besluit oor Namibië en ’n brief van die NTLA nie.”

Winter het verwys na RWE se verklaring van November 2024, wat die fokus op Europa en die Amerikas bevestig.

Namens Hyphen self het Goagoseb gesê: “Ons is ­teleurgesteld om te sien dat onakkurate inligting ­gerapporteer word rakende die status van ’n ­MOU tussen Hyphen en RWE.

“RWE se besluit om op sy portefeulje van ­Europese projekte te fokus, het geen verband met die toekomstige ontwikkelingspotensiaal van die Hyphen-projek nie. Hyphen gaan voort om met verskeie potensiële strategiese kopers in Europa en Asië te skakel, met die projek wat een van die laagste koste, laagste risiko en mees gevorderde groot­skaalse groen ammoniakprojekte wêreldwyd bly.”

Die Hyphen-projek is Namibië se grootste en mees ambisieuse groenwaterstofinisiatief, met direkte steun - en ook ’n beduidende aandele­belang - in die US$10 ­miljard-projek, van die regering. Dit beoog om die land se eerste giga­watt-skaalprojek te wees, en word beplan binne die Tsau||Khaeb ­Nasionale Park, in wat voorheen bekend was as die ­Sperr­gebiet.

Volgens die NTLA word die ontwikkeling beplan op voorvaderlike Nama-grond.

Maboss Johannes Ortmann, NTLA se projekkoördineerder vir volksmoordskadevergoeding, word as volg aangehaal: “Internasionale reg vereis dat Namibië ­inheemse volke wat deur enige administratiewe of wetlike maatreël geraak word, ingelig, gekonsulteer en vir toestemming gevra moet gee. Hierdie verpligting sluit in die reg om nee te sê en moet ­gerespekteer word.”

Volgens die NTLA-verklaring eis die Namavolk dat die Namibiese regering die ­konsultasieproses as vry en met ingeligte toestemming waarborg.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer