Pam Golding Properties oorhandig 'n tjek ten bedrae van N$80 000 aan die Have-A-Heart-stigting. Foto Leena Ndakevondjo
Pam Golding Properties oorhandig 'n tjek ten bedrae van N$80 000 aan die Have-A-Heart-stigting. Foto Leena Ndakevondjo

N$80 000 vir Have-A-Heart ingesamel

Pam Golding hou potjiekoskompetisie
Leena Ndakevondjo
Leena Ndakevondjo



Pam Golding Properties op Swakopmund het N$80 000 aan die Have-A-Heart-stigting oorhandig ná hul suksesvolle potjiekoskompetisie.



Tydens die oorhandiging het die organiseerder van die geleentheid, Gerda Christoph, die inisiatief as ‘n trotse oomblik vir die Swakopmundtak beskryf. “Ná ons baie suksesvolle potjiekos-kompetisie, is dit die waarde wat ons met ‘n absolute glimlag kan oordra,” het sy gesê.



“Have-A-Heart doen werklik fantastiese werk in die veld met didiere en die gemeenskap en ons is trots op hulle en op onsself as ‘n span. Ons het dit reggekry.”



Die fondsinsamelingskompetisie het 15 korporatiewe spanne gelok, wat elkeen hul eie tema en unieke potjiekosgereg aangebied het.



King Law het met die louere weggeloop met hul ossobuco-potjie wat die eerste plek behaal het, gevolg deur die Swakopmund Veeartsenykliniek se 101 Dalmations-span as naaswenners en die Windhoek Mademoiselles in die derde plek.



Alhoewel die aanvanklike teiken van N$100 000 nie bereik is nie, het Christoph gesê die opkoms het verwagtinge oortref en die vrygewigheid van die gemeenskap beklemtoon.



“’n Groot dankie aan die gemeenskappe van Swakopmund en Walvisbaai vir hul ruimhartige ondersteuning,” het sy gesê.



Die niewinsgewende Have-A-Heart-stigting bied gratis sterilisasie en veeartsenykundige sorg vir honde en katte in benadeelde gemeenskappe regoor Namibië aan. Have-A-Heart is deur wyle Lindie Prinsloo gestig wat in November 2018 deur haar ekskêrel, Ivan Pitt, op Swakopmund vermoor is waarna hy homself om die lewe gebring het.



- [email protected]



Kommentaar

Republikein 2025-10-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer