Die vermeende baasbrein en voormalige werknemer van die Bank Windhoek-tak op Opuwo, Nico Rebebe. FOTO Kenya Kambowe
Die vermeende baasbrein en voormalige werknemer van die Bank Windhoek-tak op Opuwo, Nico Rebebe. FOTO Kenya Kambowe

Nóg arrestasies kom in Rebebe-banksaak

Kenya Kambowe
Die staat het die Opuwo-landdroshof vandeesweek ingelig polisieondersoeke is steeds aan die gang na die beweerde bankroof van N$200 miljoen van Bank Windhoek se tak op die dorp.



Verdere aanklagte kan ook by die ­vermeende meesterbrein, Nico Rebebe, ’n voormalige werknemer van die bank, se saak gevoeg word.



Rebebe, wat steeds nie formeel om borgtog aansoek gedoen het nie, het in dié landdroshof verskyn en die saak is tot 24 November vir verdere ondersoek ­uitgestel.



Die staat het ook aangedui dat nóg inhegtenis­nemings na verwagting kan volg.



Dit is vyftien maande sedert Rebebe se ­arrestasie saam met sy 15 ­medebeskuldigdes nadat hulle in Januarie verlede jaar na bewering probeer het om N$200 miljoen van Bank Windhoek se Opuwo-tak te steel. Die diefstal het op 13 Januarie 2024 plaasgevind.



Dis nog onduidelik hoeveel van dié bedrag teruggevind is, aangesien polisieondersoeke na die saak voortduur.



Bank Windhoek het egter in Januarie 2024 gesê minder as N$2 miljoen is gesteel. Die bank het die polisie in kennis gestel hoewel die vermeende sindikaat glo N$200 miljoen geteiken het, vinnige ingryping verseker het dat die gebuite geld aansienlik minder beloop het.



Afgesien van elektroniese oorplasings, word beweer Rebebe het die bank verlaat met ’n rugsak wat N$500 000 kontant bevat het.



Intussen is twee van die 16 verdagtes op borgtog vrygelaat weens hul geringe betrokkenheid by die saak. Hulle is Megameno Ankoshi en Rosalia Sheengala, wat op 28 Mei 2024 borgtog van N$1 000 elk toegestaan is.



Die meerderheid van die verdagtes wat in verband met die beweerde diefstal in hegtenis geneem is, was werkloos en Rebebe het hulle glo plaaswerk be­lowe.



Hulle is na bewering opdrag gegee om bankrekeninge oop te maak, waarin Rebebe later glo N$2,1 miljoen inbetaal het.



Rebebe het glo hul bankkaarte gehou, wat hom na bewering alleen toegang tot die geld gegee het.



Sommige van die ­verdagtes is vasgetrek nadat die Namibiese polisie snuf in die neus gekry toe hulle glo bank toe gegaan het en groot bedrae geld wou onttrek.



[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer