Meer as N$1 mjd. nodig om Katima van rioolkrisis te red

Infrastruktuur oorspronklik vir 500 mense ontwerp
Die opgradering van die bestaande rioolnetwerk sluit die konstruksie van 'n gevorderde verwerkingsaanleg vir afvalwater in wat meer as 52 000 huishoudings kan bedien.
Phillipus Josef
Om Katima Mulilo se rioolinfrastruktuur te herstel, kan meer as N$1,5 miljard oor die volgende twee jaar kos.

In ’n verklaring wat vandeesweek deur die dorpsraad uitgereik is, is die toenemende druk op die dorp se verouderde rioolnetwerk beklemtoon, met gebiede soos Ngweze, Soweto en Boma wat na bewering voortdurende verstoppings en die oorloop van dreine ervaar.

Die verklaring maak ook melding van ’n plan om die langdurige probleem in fases te probeer oplos.

Terwyl die volledige rehabilitasie beduidende finansiering gaan vereis, sê die raad ’n projek, wat deur die regering met N$491 miljoen ondersteun word, is reeds aan die gang om die opknapping af te skop.

Die dorpsraad beplan, in vennootskap met die Universiteit van Namibië (Unam), om ’n moderne rioolverwerkingsaanleg te bou, sowel as om 24 pompstasies ’n nuwe baadjie te gee. Die projek sluit ook planne in om sommige van die mees beskadigde rioollyne te herstel. Die projek word ondersteun deur die Katima Wastewater (KW)-finansieringsooreenkoms, met die hulp van die regering en ontwikkelingsvennote.

STELSEL STEIER ONDER DRUK

In Mei is berig die dorp se rioolstelsel, wat oorspronklik ontwerp is om net 500 mense te bedien, lank reeds oorweldig word deur ’n snelgroeiende bevolking wat nou sowat 50 000 inwoners nader.

Die opgradering van die bestaande rioolnetwerk onder aanvoering van die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling in vennootskap met die kontrakteur Fullbright Water, sluit die konstruksie van ’n gevorderde verwerkingsaanleg vir afvalwater in. Ná voltooiing sal die aanleg meer as 52 000 huishoudings kan bedien.

Vir inwoners soos Maria Liswani wat in Ngweze woon, word die belegging verwelkom, maar sê dit moes al lankal gebeur het.

“Ek woon al die afgelope vyf jaar in Ngweze en die stank van die dreine is iets waarmee jy maar net leer om mee saam te leef,” het sy in ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) gesê.

“Soms gaan ons vir dae sonder om die toilet te spoel, omdat die stelsel verstop raak,” het sy verduidelik.

Liswani sê sy hoop die projek is die begin van ’n werklike ommekeer.

“Ons het voorheen al soveel sulke aankondigings gesien, maar hierdie een klink ernstig. Ons wil net hê hulle moet dit afhandel.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer