Matyayi eis verskoning
Stad Windhoek se uitvoerende hoof, Moses Matyayi, eis 'n openbare verskoning of alternatiewelik skadevergoeding van N$500 000 elk van drie stadsraadslede oor wat hy beskryf as valse en lasterlike bewerings oor sy gedrag en internasionale reise.
Die eis vervat in 'n brief gedateer 3 September 2026 van Ndaitwah Legal Practitioners en wat Republikein gesien het, teiken die raadslede Jesaya Ikali, Werner Tjihuiko en die voormalige burgemeester Ndeshihafela Larandja. Volgens die prokureursbrief het die drie raadslede se openbare verklarings Matyayi se reputasie geskend en hom aansienlike skade berokken.
Dit hou verband met bewerings wat oor Matyayi se internasionale reise gemaak is, insluitend dat hy glo na Rusland, Colombia en die Verenigde State van Amerika sonder behoorlike goedkeuring of aanspreeklikheid sou gereis het. Die beweringe is deur die drie raadslede in ‘n brief aan die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, James Sankwasa, gemaak.
In die brief word verwys na Matyayi se reise na Colombia en Rusland, dat hy glo vir meer as twee weke uit die land was en na bewering N$300 000 aan 'n reis na Harvard-Universiteit bestee het sonder die voorafgaande goedkeuring van die volle raad.
Matyayi sê egter die bewerings is vals, misleidend en lasterlik en was hy volgens sy regsverteenwoordigers nooit tydens sy ampstermyn in Columbië nie. Hy ontken ook dat hy N$300 000 aan ‘n reis na Harvard bestee het en was ook ook nie soos beweer vir meer as twee weke uitstedig nie.
Die prokureursbrief eis dat die betrokke raadslede 'n skriftelike, getekende verskoning uitreik waarin hulle erken dat hul verklarings vals en skadelik was.
Die verskoning moet teen 10 September 2026 aan Matyayi, die minister, en die burgemeester, Sakarias Uunona gestuur word en in gedrukte media verskyn wat daaroor berig het.
Sou die raadslede versuim om aan die opdrag gehoor te gee, kan dit in die hof draai waar Matyayi skadevergoeding van N$500 000 van elke raadslid sal eis, saam met regskoste, sal eis.
Opdrag gegee om onmiddellik enige verdere valse verklarings rakende Matyayi se reputasie te maak. Die raadslede maak die bewerings in ‘n brief wat op 5 Augustus geskryf en aan Sankwasa en Uunona oorhandig is.
Hiervolgens het die raadslede “via sosialemediaplatforms” van Matyayi se reise en meer as twee weke in die buiteland te hore gekom.
Die raadslede het verwys na raadsbesluite wat in 2008 en 2021 aangeneem is wat na bewering sekere besluitnemingsmagte aan die bestuurskomitee en die uitvoerende hoof gedelegeer het. Hulle het bevraagteken of die besluite geldig bly en of die bestaande reëling die volle raad se toesighoudende rol verswak.
Larandja het by navraag gesê hulle is bewus van die eisbrief en dat hulle met ‘n formele verklaring sal reageer.
“As 'n raadslid nou gekruisig word omdat hy 'n uitvoerende hoof aanspreeklik hou, dan moet die grondwet sowel as die wet op plaaslike owerhede, uitgedaag word,” het sy gister aan Republikein gesê.
“Ons wil dit net nie ligtelik opneem sonder om ook die aandag van die wetgewer te trek nie, sodat indien daar enige swakpunte in daardie statutêre of wetlike instrumente is, dit opgespoor kan word. Want as dit slaag, sal dit beteken dat raadslede van plaaslike owerhede se hande gebind sal wees en hulle sal geen uitvoerende hoof aanspreeklik kan hou nie,” het Larandja gesê.
Stad Windhoek het nie die reisdatums, bestemmings, uitgawerekords of goedkeurings verskaf wat nodig is om onafhanklik te bepaal watter van die betwiste bewerings akkuraat was nie. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie