Mark-makietie op Rehoboth
Gemeenskapsontwikkeling het ’n punt bereik waar opleiding alleen nie meer genoeg is nie.
Daarom het die kennis en vaardighede wat deur vorige opleidingsinisiatiewe gedeel is, nou ’n praktiese omgewing nodig waar deelnemers kan toepas dit wat geleer is, sê die afgetrede predikant van die Metodistekerk op Rehoboth, Cornellia Nel.
“Hulle moet met hul idees kan eksperimenteer, selfvertroue ontwikkel en die werklikheid van entrepreneurskap kan ervaar,” verduidelik sy.
Môre word hierdie praktiese omgewing ’n werklikheid op Rehoboth wanneer die Vroue in Geloof Boeremark – die breinkind van ’n groepie geloofsvroue op die dorp – van entrepreneurskap en vroue-ondernemings tot markblootstelling in een praktiese inisiatief saambring.
Dis ook ’n meer praktiese benadering tot die ontwikkeling van vaardighede in die gemeenskap, sê Cornellia.
“Ons sal kan sien watter vaardighede in lewensvatbare aktiwiteite omgesit kan word, wat het bykomende ondersteuning nodig, watter hulpbronne benodig word en of toekomstige opleidingsprogramme herontwerp kan word rondom praktiese toepassings en meetbare uitkomste,” verduidelik sy.
Vroue in Geloof is in Februarie vanjaar as deel van ’n grondvlak-organisasie en leierskapontwikkelingsproses gestig wat daarop gemik is om armoede, werkloosheid en maatskaplike uitdagings wat vroue en jongmense op Rehoboth raak, aan te pak.
Cornellia verduidelik die inisiatief bring vroue van verskillende kerkdenominasies en gemeenskapsagtergronde bymekaar met die doel om individue te bemagtig. Laasgenoemde geskied deur leierskapontwikkeling, vaardigheidsopleiding, entrepreneurskap en gemeenskapsbetrokkenheid.
“Oraloor ons gemeenskap beskik baie vroue oor merkwaardige talente in bak, naaldwerk, handwerk, landbou en klein besighede. Tog verhoed werkloosheid en beperkte geleenthede hulle om hierdie gawes in ’n volhoubare lewensbestaan te omskep,” sê sy.
Terselfdertyd soek baie jongmense na positiewe ruimtes waar hulle hul talente kan ontwikkel, vertroue kan bou en geleenthede vir die toekoms kan ontdek.
“Die Boeremark sal werklose vroue en jong entrepreneurs die geleentheid bied om hul produkte te vertoon en te verkoop, sakenetwerke te ontwikkel en praktiese ervaring op te doen in die bou van volhoubare ondernemings.”
Die vyf toegewyde geloofsvroue verteenwoordig van entrepreneurs tot geloofsleiers wat saamgebind word deur hul strewe om geleenthede te skep wat families bemagtig en om die dorp se stukkende gemeenskap te help herbou.
“Geloof in aksie het ons geleer verandering begin met verhoudinge. Deur die een-tot-een-beginsel het ons geleer om te luister, om vertroue te bou en bates in ons gemeenskap te identifiseer,” sê Cornellia.
Nou soek en leer die groepie geloofsvroue hoe om praktiese oplossings te vind vir waardevolle produkte, vaardighede en idees.
Toegang tot markte en sakegeleenthede beperk mense se vermoëns, verduidelik sy, daarom dat die vroue hulself daartoe verbind om inisiatiewe vir volhoubare inkomste te genereer.
Danksy die mentorskap en indiensopleiding van pastoor Collin Gertze, het die groepie begin om praktiese sakevaardighede te ontwikkel, terwyl hulle leer hoe geloof en entrepreneurskap hand aan hand blywende verandering teweeg kan bring.
Sedert Februarie vanjaar is onverpoos gewerk om fondse te genereer wat die breër doelwitte van Geloof in Aksie ondersteun.
Danksy ’n paar pakkies saad wat deur ’n gemeenskapslid, Shirlee Gertze, geskenk is, is daar by die Metodistekerk en die huis van Lilly Hodson begin met die aanplant van onder meer basiliekruid, koljander, origanum, tamatie, groenpepers, okra, borrie en gemmer.
“Die produkte is nie net ’n inisiatief van voedselproduksie, medisyne en speserye nie, maar ook ’n praktiese bewys van selfonderhoud, eienaarskap en volhoubare gemeenskapsontwikkeling,” sê Cornellia.
Vroue in Geloof was ook reeds by spyseniering en kosverkope betrokke waartydens tradisionele gunstelinge soos afval, potjiekos, roosterkoek, gemmerbier en kaneelrolletjies verkoop is. Dit sorg weer vir ’n ekstra inkomste vir verskillende entrepreneurs wat op die verkoop van kos fokus.
Die groep vroue se vaardighede vir spyseniering was ook ’n geleentheid om weer aan die kerk terug te gee. As deel van hul indiensopleiding het die vroue gesorg vir ’n ontbyt wat deur die kerk aangebied is.
“Ons het die geleentheid gebruik om te leer oor kosteberekening en rekordhouding en ook om dit te gebruik om te netwerk vir die bou van toekomstige vennootskappe en geleenthede,” het sy gesê.
Deur hierdie “eenvoudige inisiatiewe” het die vroue hul vermoë gewys om te organiseer, kwaliteitdienste te lewer en saam met die gemeenskap te kan werk, verduidelik sy trots.
Om in die behoefte te voorsien om ’n bestendige inkomstestroom vir ’n volhoubare inkomste te skep, is met die beskuitprojek begin waar tuisgemaakte produkte van hoë gehalte die grondslag vir ’n toekomstige kleinsakebesigheid vorm.
Buiten vir die inkomste wat dit verseker, verskaf dit ook ’n geleentheid vir indiensopleiding vir die ontwikkeling van vaardighede, spanwerk en entrepreneurskap.
Danksy die Metodistekerk wat sy kombuis vir die beskuitbak en spyseniering beskikbaar gestel het, is broodnodige geriewe geskep vir Rehoboth se raakvat vroue.
Een van die waardevolste lesse danksy die geloofsgemeenskap se basismodel, is die van strategiese vennootskappe, sê Cornellia.
Vroue in Geloof het reeds sterk verhoudinge met verskillende rolspelers in die gemeenskap gevestig, wat insluit die Basterkaptein Jacky Britz en sy kantoor, lede van die Rehoboth-skouvereniging en die dorp se sakekamer, plaaslike sakeleiers, asook gemeenskapslede wat tot maatskaplike ontwikkeling verbind is.
Deur hul verhouding met Britz en danksy sy passie vir gemeenskapsontwikkeling is toestemming ook verleen om die ruimte voor sy kantoor in die middedorp vir ’n weeklikse mark oor ’n naweek te gebruik.
“Ons glo wanneer vroue deur geestelike leiding bemagtig word, word families versterk. Waar families versterk is, floreer gemeenskappe.”
PRYSE
Tydens môre se mark-makietie word pryse ook vir die beste tradisionele kostuum, die mees kreatiewe stalletjie en die beste foto van die dag uitgedeel.
Die mark skop om 09:00 by die skougronde op die dorp onder die vaandel “Flavours, Vibes & Local Pride” af en toegang is gratis.
Buiten vir die stalletjies met onder meer vars- en handgemaakte produkte, is daar vir die met dansvoete ’n Amapiano-“dance off” waartydens spanne van drie tot ses teen mekaar meeding. Die inskrywingsfooi is N$50 per groep en daar is plek vir 20 groepe.
Vir meer inligting oor die mark en Vroue in Geloof se verskeie inisiatiewe, skakel 081 420 3347 of 081 220 9811 of stuur ’n e-pos aan [email protected].


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie