Ciska Bronkhorst (27) en haar sesjarige seuntjie, Lian, het in die ongeluk gesterf. Haar man, Henri, is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem, terwyl hul driejarige dogtertjie volgens die polisie lig beseer is en reeds uit die hospitaal ontslaan is.
FOTO FACEBOOK
Ciska Bronkhorst (27) en haar sesjarige seuntjie, Lian, het in die ongeluk gesterf. Haar man, Henri, is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem, terwyl hul driejarige dogtertjie volgens die polisie lig beseer is en reeds uit die hospitaal ontslaan is. FOTO FACEBOOK

Ma en seun sterf in ongeluk, pa en dogterjie oorleef

Henriette Lamprecht
Die Namibiese polisie het die name bekend gemaak van die ses mense wat Sondag in ’n ongeluk op die Otjiwarongo-Okahandja-pad gesterf het.

Volgens die woordvoerder van die Namibiese polisie in die ­Otjozondjupastreek, insp. Maureen Mbeha, is die 27-jarige Ciska Bronkhorst en haar ses­jarige seuntjie, Lian, wat passassiers in die GTi Golf was, dood. Haar man, Henri, is ernstig in die kop-aan-kop-botsing beseer.

Hul driejarige dogtertjie is lig beseer en volgens Mbeha reeds uit die hospitaal ontslaan.

In die Jetta het vier vroue – Ziita Augusto (48), Josephine Iileka (24), Sirkka Ndeshipanda Simon (27) en Laudika Ndahambelela Nghiwilepo (31) – in die ongeluk gesterf.

Volgens Mbeha is albei die ­bestuurders ernstig beseer en is na hospitale in Windhoek vervoer.

Na bewering is die ongeluk veroorsaak deur ’n derde voertuig; ’n bakkie wat aan die verkeerde kant van die pad gery het en om ’n blinde draai ’n motor verbygesteek het.

Die bestuurder het glo nie ná die ongeluk by die toneel stilgehou nie. Dit is egter nie deur Mbeha bevestig nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer