Lifelink Hentiesbaai het onlangs bekend gemaak dat hulle binne die volgende weke hul diens in Hentiesbaai sal staak. Foto Lifelink
Lifelink Hentiesbaai het onlangs bekend gemaak dat hulle binne die volgende weke hul diens in Hentiesbaai sal staak. Foto Lifelink

Lifelink verlaat Hentiesbaai

Finansieële besluit
Lifelink Hentiesbaai berei tans voor om sy dienste uit die dorp te onttrek.
Iréne-Mari van der Walt
Ná ongeveer ’n dekade se diens aan die Hentiesbaai gemeenskap, sal Lifelink Hentiesbaai binne die volgende weke uit die aftreedorp onttrek.

“Dit is net nie ’n goeie finansiële besluit nie,” vertel Brian Low van Lifelink Hentiesbaai.

Low vertel dat hy oor die afgelope dekade alle noodgevalle op die dorp bygestaan het waar hy kon, maar hierdie is taak eenvoudig nie meer vir hom moontlik nie.

Low is van plan om steeds sy besigheid te bedryf, maar sal so doen van ’n ander dorp wat hy nog nie wil bekend maak nie.

Vir die kusdorp beteken dié nuus dat daar binnekort net een staatsambulans beskikbaar sal wees. In geval van groter ongevalle waar meer as een pasiënt dringende sorg nodig het, sal ambulanse vanuit Swakopmund moet ingebring word.

“Ons het die private sektor nodig. Dis ’n verlies vir Hentiesbaai, maar ons het nog die staatsambulans beskikbaar in geval iets op die dorp gebeur,” vertel Anna Jonas, die direkteur van gesondheid in die Erongostreek.

“Dis altyd vir ons as die staat makliker as ons kan hande vat met privaat besighede, maar as hulle voel dis nodig om hul besigheid te onttrek, dan kan ons dit nie keer nie,” sê Jonas.

Low sê die bekende 999-noodlyn sal steeds in werking bly, maar diegene wat die nommer skakel, sal voortaan deurgesit word na die staatskliniek op Hentiesbaai van waar die nodige bystand gereël kan word.

Kommentaar

Republikein 2026-11-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer