Infografiek Nampolo Angula
Infografiek Nampolo Angula

Kuddeherbouing ná droogte

Landbou-oorsig vir tweede kwartaal
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg

Namibië se landbousektor toon ’n tydperk van strategiese herstel en kuddeherbouing ná twee jaar van droogte, volgens die landbou-ekonoom van die Namibië Landbou-unie (NLU), Leigh-Ann Nehoya.

Gevolglik het beesbemarking skerp gedaal met 56% en beesvleis­uitvoere het met die helfte tot 5 461 ton afgeneem, met swakker handelsvloei na Suid-Afrika, die ­Verenigde Konink­ryk (VK) en China. Namibië het ­gemiddeld 4 330 beeste per maand in 2025 uitgevoer, wat aansienlik laer is as die 17 783 beeste wat gemiddeld in 2024 uitgevoer is.

“Namibië se veesektor het histories die meerderheid van sy jong beeste, insluitend speenkalwers, verse en tollies, na Suid-Afrika uitgevoer, aangesien die meeste boere nie die kapasiteit het om hierdie diere tot slaggewig te kry nie as gevolg van omgewings- en finansiële beperkings,” het Nehoya verduidelik.

Sy sê beesvleispryse in Amerika (VSA) en die Europese Unie (EU) styg in 2025 as gevolg van ’n ­kombinasie van faktore, ­insluitend ’n krimpende ­beeskudde, ­stygende voerkoste en ­verhoogde verbruikers­vraag. “Die Amerikaanse beeskudde is op sy laagste vlak sedert die 1950’s en ’n ­onlangse droogte het die aanbod van beskikbare beeste vir beesvleisproduksie verder ­verminder,” sê sy.

“Boonop maak stygende voerkoste, veral vir hooi en ander voer, dit duurder vir veeboere om beeste te teel, wat daartoe lei dat hulle meer beeste vir verslagting verkoop eerder as om hulle te teel,” sê Nehoya.

“Aan die ander kant staar die EU voorraadbeperkings in die gesig in die aantal beeste wat beskikbaar is vir verslagting in groot produserende lande soos Frankryk, Spanje en Duitsland, wat die beskeie winste in Ierland, Italië en Pole oortref het. Gevolglik word die algehele EU-beesvleisproduksie in 2025 op 6,73 miljoen ton beraam, ’n afname van 1,3% vanaf 2024, hoofsaaklik as gevolg van ’n voortgesette inkrimping in die teelkudde.”

Daarbenewens vorm internasio­nale handelsdinamika, volgens Nehoya, markgedrag. “Die Amerikaanse beesvleismark funksioneer onder ’n nuwe, onvoorspelbare ­dinamiek as gevolg van die voortdurende handelsoorlog met China.”

Suiwelproduksie het tot 8,1 miljoen liter gestyg, terwyl produsen­tepryse stabiel gebly het. “Die ­gemiddelde prys van melk ­gedurende die eerste helfte van 2025 het stabiel gebly teen N$7,42 per liter. Dit is 2 sent minder as verlede jaar se prys ­gedurende dieselfde tydperk. ­Produksie, aan die ander kant, het met 482 357 liter tot meer as 8 miljoen liter in 2025 gegroei van die sowat 7, 6 miljoen liter wat in 2024 ­geproduseer is,” het Nehoya gesê.

SKAPE, VARKE, BOKKE

Net so het skaapbemarking met 41% gedaal. “Hierdie sikliese laagtepunt is ’n nodige proses wat na verwagting sal lei tot ’n sterker lewendehawe ekonomie vanaf 2026,” sê sy.

“Wat internasionale handel betref, het skaapvleisuitvoere gedaal van 405 ton wat in 2024 uitgevoer is tot 155 ton wat gedurende die eerste helfte van 2025 uitgevoer is as gevolg van lae verslagtingsgetalle. Hiervan is 48% na Botswana, 37% na Suid-Afrika en 15% na Noorweë uitgevoer.”

Plaaslike varkproduksie het effens toegeneem met 4%, alhoewel Namibië steeds staatmaak op invoere vanaf Spanje.

Aan die ander kant, sê Nehoya, het bokuitvoere effens met 10,35% verswak, maar bokveilingpryse het ’n dekade-hoogtepunt bereik, met ’n gemiddeld van N$1 407,84 per bok in die eerste helfte van 2025.

PLUIMVEE

In die eerste helfte van 2025 is 9 307 872 hoenders bemark. Hiervan is 86% van die pluimvee deur Namib Poultry geslag en 14% deur Kadila Poultry. In die eiersektor is 52 367 795 eiers tussen Januarie en Junie 2025 bemark. Nehoya sê ten spyte hiervan ervaar die pluimveebedryf steeds beduidende mededinging van invoere, met 11 388 ton pluimveevleis en -produkte wat ingevoer is, meestal in die vorm van meganies ontbeende vleis (MDM). “Gedurende die eerste helfte van die jaar is 11 388,45 ton pluimveevleis en -produkte in Namibië ingevoer, waarvan 59% uit Pole gekom het, terwyl 15 360 000 eiers gedurende dieselfde tydperk ingevoer is.”

WINS VERBETER

Plaaswinsgewendheid het verbeter danksy sterker pryse vir vee, insluitend beeste, lammers en speenkalwers, met pryse wat met 10% tot 27% toegeneem het. Produksiekoste vir vee het ook met 1,9% gedaal vir die twaalf maande wat in Junie 2025 geëindig het.

“Hierdie afname is hoofsaaklik beïnvloed deur ’n daling van 10,29% in brandstofpryse, wat gehelp het om ’n styging in elektrisiteitskoste te verreken. Kapitaaluitgawes het ook met 4,83% gedaal en onderhouds- en vaste verbeteringskostes het jaarliks met 2,7% afgeneem, wat verligting aan die landbousektor gebring het.

“Terwyl speenkalfproduksiestelsels niewinsgewend tussen 2023 en 2024 was, toon dit nou ’n herstel in pryse en ’n stabilisering van insetkoste,” sê Nehoya.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer