Kreatief. Sport. Toerisme
Alle paaie lei hierdie week na die Hage Geingob-rugbystadion in Windhoek waar die Creative.Sport.Tourism-ekspo haar eerste buiging van 2 tot 4 September maak.
Dit is ook hier waar Republikein se gewilde Bruidspaar van die Jaar-kompetisie ’n finale hoogtepunt bereik wanneer die wenpaartjie Donderdag om 19:00 aangewys word.
Vanjaar se kompetisie het nuwe hoogtes bereik, met meer as 50 000 stemme wat uitgebring is om die finaliste aan te wys. Dit is ook by CST-ekspo wat Republikein se jongste tydskrif Trou haar elegante buiging maak met van die finaliste se persoonlike ervaring met die reëlings vir hul mooiste dag, wenke oor die kies van ’n trourok wat die beste by jou pas tot ’n verbruikersgids vir verskaffers van DJ tot troukoek.
Prisca Anyolo, Mej. Namibië 2024 en bekroonde joernalis, media- en kommunikasiespesialis en entrepreneur; Charlton de Koe, stigter en besturende direkteur van CdK Events, ’n professionele geleentheidbeplannings-, stilerings- en dekormaatskappy; Megan Breytenbach, ’n prokureur by Dr Weder, Kruger & Haikali Inc. en die gesig van vanjaar se Republikein Bruidspaar van die Jaar-kompetisie en Beaulah Boois-Beukes, nasionale direkteur van Mej. Namibië en ’n kampvegter vir die bemagtiging van die jeug en vroue is die beoordelaars wat gaan besluit wie vanjaar se wenpaartjie is.
Die CST-ekspo skop môre met die CST-toekenningseremonie by die Nasionale Teater van Namibië (NTN) af.
Die doel van die ekspo is om samewerking tussen die drie sektore (kreatief, sport en toerisme) te bevorder wat aansienlik tot Namibië se ekonomie bydra. Dit bied besighede ’n platform om met rolspelers, beleggers, kliënte en vennote te skakel, terwyl dit uitstekende blootstelling bied vir klein- en mediumgrootte ondernemings (SME’s) wat staatmaak op openbare geleenthede om hulself te bemark en netwerke te bou.
“Om deel te wees van CST is belangrik vir IUM Radio, want dit vier die krag van sport, kreatiwiteit en toerisme om mense te verbind en te inspireer. CST stem ooreen met ons waardes van gemeenskap, jeugbemagtiging en die gebruik van media om die talent, stories en geleenthede wat in Namibië bestaan, ten toon te stel,” sê Junior Kapofi, administratiewe, verkoops- en bemarkingsbeampte by IUM Radio, een van die ekspo se uitstallers.
Die toerismesektor word sterk verteenwoordig deur uitstallers wat Namibië se reiservarings, verblyf en avontuuraktiwiteite ten toon stel.
In die kreatiewe sektor val die fokus op plaaslike musiek, mode, die visuele kunste en kulturele optredes, terwyl sport ondersteun word deur demonstrasies, kompetisies en uitstallings wat die fokus plaas op jeugontwikkeling, gesondheid en ekonomiese groei.
Eva-Rakel Johannes, handelsmerk- en bemarkingsbestuurder by N/a'an ku sê se groep van maatskappye, lei ’n bespreking “Beyond Bookings: What the Enjoy Platform Means for Namibia” en wat ondersoek hoe geïntegreerde toerismebemarking die toerismebedryf deur middel van storievertelling en strategiese vennootskappe kan versterk.
“Ons beweeg van bloot besprekings verkoop na die bou van bestemmings, handelsmerke en stories wat langtermynwaarde vir die toerismebedryf skep,” sê Johannes.
“Hoe ons daardie storie vertel, beïnvloed direk hoe mense ons ontdek. . . en wie kies om nie net met N/a'ankusê nie, maar met Namibië as geheel te skakel.”
Op die musiekfront gaan die CST-ekspo die stadion laat dreun met die Suid-Afrikaanse DJ, Oscar Mbo, wat as hoofvertoning aansluit by die Namibiese musiekikone Gazza en Cleyton M.
Verskeie slypskole word ook tydens die duur van die ekspo aangebied, met vooraanstaande en gerekende sprekers soos die voormalige presidentsvrou, Monica Geingos, met “From the Field to the Boardroom”, die adjunkminister van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur Dino Ballotti oor volhoubare befondsing vir sportontwikkeling en die Suid-Afrikaanse skrywer en vervaardiger Frans Cronje oor storievertelling en impak.
Ashwyn Mberi, uitvoerende direkteur van NTV Afrika en een van die organiseerders, beskryf die CST-ekspo as ’n samekoms.
“Dit skep ’n ruimte waar hierdie sektore kruis, saamwerk en hul gesamentlike potensiaal kan erken in die vorm van die land se identiteit, ekonomie en toekoms.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie