Emeraldsand Platform se Ashwyn Mberi; ESP se uitvoerende direkteur, Nangula Uaandja; Albe Botha; die minister van inligting en kommunikasietegnologie, Emma Theofelus; ESP-woordvoerder Maggy Mbako; en Network Sport Hub se uitvoerende direkteur, Natalie Van Wyk. FOTO ELIZABETH KHEIBES
Emeraldsand Platform se Ashwyn Mberi; ESP se uitvoerende direkteur, Nangula Uaandja; Albe Botha; die minister van inligting en kommunikasietegnologie, Emma Theofelus; ESP-woordvoerder Maggy Mbako; en Network Sport Hub se uitvoerende direkteur, Natalie Van Wyk. FOTO ELIZABETH KHEIBES

Kreatief. Sport. Toerisme

Elizabeth Kheibes

’n Nasionale platform waar die kreatiewe, sport- en toerismesektore saamkom om vernuwing, entrepreneurskap en ekonomiese groei te bevorder. 

Die driedaagse CTI-ekspo is gister amptelik by die Hage Geingob-stadion in Windhoek deur Emeraldsand Platforms (ESP) ter ondersteuning van die visie van Brand Namibia en met die steun van die minister van inligting en kommunikasietegnologie, Emma Theofelus, van stapel gestuur. 

Volgens ESP se uitvoerende direkteur, Nangula Nelulu Uaandja, kom die inisiatief op ’n tydstip waarin Namibië nuwe maniere soek om werksgeleenthede te skep en die ekonomie te diversifiseer.

“Dit is met groot trots en optimisme dat ek die eerste CST Ekspo 2026 bekend stel. Dit is ’n bepalende oomblik vir ons nasie waarin ons die sterk visie van ons president ondersteun om 500 000 werksgeleenthede te skep en ’n werklik inklusiewe en dinamiese Namibiese ekonomie te bou,” het sy gesê.

Uaandja het Namibië se toerismesektor beskryf as histories ’n belangrike ekonomiese dryfveer, terwyl die land se kreatiewe en sportsektore grootliks onderbenut bly. 

“Deur hierdie sektore bymekaar te bring, ontsluit ons kragtige sinergieë wat help om vernuwing aan te wakker, entrepreneurs te bemagtig en betekenisvolle werk, veral vir ons jeug, te skep, het sy gesê.

Die Hage Geingob-stadion sal tydens CST Ekspo 2026 omskep word in ’n hutspot van uitstallings, optredes en kompetisies. Organiseerders verwag meer as 200 binnens- en buitenshuise uitstallers wat kreatiewe nywerhede, toerismebestemmings en leefstylervarings ten toon sal stel.

Die program sal ook meer as 20 werkwinkels insluit wat deur entrepreneurs, kundiges en innoveerders van oraloor die drie sektore gelei word. Die sportaktiwiteite onder die vaandel #Games sal na verwagting meer as 3 000 atlete lok wat oor 10 sportkodes met mekaar sal meeding.


TOERISMEBESTEMMING

Theofelus het op haar beurt gesê Namibië se reputasie as toerismebestemming is grootliks gebaseer op sy aanbod van ontspanning en het voor die Covid-19-pandemie sowat 1,6 miljoen besoekers gelok.

“Namibië se aanbod van ontspanningstoerisme is al vir jare die dryfveer agter ons posisionering as ’n handelsmerk wêreldwyd,” het sy gesê.

“Dit het ons goed gedien en Namibië se posisie as een van die Afrikalande gehandhaaf wat groot getalle toeriste lok,” sê Theofelus.

Die minister het beklemtoon Namibië se potensiaal verder strek as tradisionele toerisme.

“Namibië bied meer as net ontspanning vir toerisme. Ons is ’n land waarin enige wêreldburger moet oorweeg om in te belê, mee handel te dryf, te ontwikkel, daarin te woon en natuurlik te besoek,” het sy gesê.

Volgens Theofelus wys die CST Ekspo hoe toerisme, sport en kreatiwiteit saam kan werk om nuwe ekonomiese geleenthede te skep. 

“Die Creative Sport en Toerisme Expo erken dat wanneer hierdie sektore saamwerk, hulle iets veel groter as die somtotaal van hul afdelings skep,” het sy gesê.

Die minister sê die platform kan Namibië help om sy ekonomie van die land se toerismebedryf te diversifiseer, terwyl dit geleenthede vir jongmense in sport, media, vermaak en digitale produksie skep. 

“Platforms soos CST baan die weg vir jong Namibiërs om hul passie in ’n volhoubare lewensbestaan ​​te omskep,” het sy gesê.

Toegangsgelde vir die ekspo beloop N$100 vir volwassenes en N$20 vir kinders tussen ses en 18 jaar, terwyl kinders jonger as ses en mense ouer as 60 gratis toegang sal hê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer