Die nasionale uitsaaier (NBC) se hoofkantoor. FOTO ARGIEF
Die nasionale uitsaaier (NBC) se hoofkantoor. FOTO ARGIEF

Kontrakte was voor wet

N$1,5 miljoen bo vergoedingsplafon
NBC-kontrakte wat voor 2019 met bestuurders gesluit is, dwing die uitsaaier om aan te hou om hulle bo die regering se salarisdrempel te vergoed.
Nikanor Nangolo

Die minister van inligting en kommunikasietegnologie, Emma Theofelus, het die salarisse van sommige bestuurders by die Namibiese Uitsaaikorporasie (NBC) wat die regering se salarisplafon oorskry, toegeskryf aan dienskontrakte wat onderteken is voor die implementering van die wet op die bestuur van staatsondernemings (Pega).

Die kwessie het onder die loep gekom nadat die NBC weer ’n ongunstige ouditmening in die kantoor van die ouditeur-generaal se verslag ontvang het. Die verslag het vergoeding uitgewys wat bo die goedgekeurde drempel tydens die 2023-’24-boekjaar betaal is.

Network Media Hub (NMH) het vroeër berig bestuurders by die NBC het tot N$1,5 miljoen bo goedgekeurde vergoedingsdrempels ontvang. Dit is gedoen in stryd met Pega en sonder die vereiste toestemming van die verantwoordelike minister.

Dié bevinding is deur die ouditeur-generaal, Junias Kandjeke, in die NBC se ouditverslag gemaak vir die finansiële jaar wat op 31 Maart 2024 geëindig het.

Kandjeke het ’n ongunstige ouditmening vir die nasionale uitsaaier uitgereik en gesê dat die finansiële state weens die belangrikheid van die salariskwessie, nie ’n ware en billike voorstelling is van die NBC se finansiële posisie soos op 31 Maart 2024 nie.

Volgens die verslag is dit ook nie die ware en billike voorstelling van die uitsaaier se finansiële prestasie en kontantvloei vir die jaar nie. Dié gevolgtrekking is bereik, volgens ’n verslag wat verlede maand in die parlement ter tafel gelê is, in ooreenstemming met  internasionale finansiële verslagdoeningstandaarde en die wet op die Namibiese Uitsaaikorporasie. 

“Die ouditeure het gemerk dat sommige bestuurslede N$1,4 miljoen bo die vergoedingsdrempel soos per Artikel 4 van die Wet op die Bestuur van Openbare Ondernemings van 2019 betaal is,” het Kandjeke in die verslag geskryf.

In die vorige finansiële jaar is NBC-bestuurders na bewering tot N$750 000 bo die goedgekeurde drempel betaal, wat teenstrydig is met dieselfde wet.

In reaksie op vrae in die parlement, het Theofelus gesê die saak spruit voort uit kontrakte wat gesluit is voordat die bestuursraamwerk vir vergoedingsplafonne vir staatsondernemings ingestel het.

Volgens die minister is staatsondernemings in verskillende vlakke gekategoriseer toe die bestuurswet in 2019 in werking getree het, elk met ’n spesifieke vergoedingsplafon vir bestuurders. Sommige kontrakte by NBC het reeds daardie drempels oorskry. 

“Sommige kontrakte by die NBC het reeds voor die inwerkingtreding van die wet in 2019 die spesifieke vergoedingsdrempel oorskry,,” het Theofelus verduidelik.

Volgens haar is dit wetlik en prakties moeilik vir die NBC-raad en -bestuur om die salarisse van werknemers te verminder terwyl hulle steeds gebonde is aan bestaande kontrakte.

“Dit was moeilik vir die bestuur en die raad, te midde van ’n dienskontrak, om die salaris van daardie persoon werklik te verminder. Daarom verskyn daardie kwessie steeds in die ouditverslag,” het sy verduidelik.

Die parlementslid vir die Independent Patriots for Change (IPC), John-Louw Mouton, wou weet hoekom die kwessie voortduur, ten spyte daarvan dat die ministerie gesê het dit geniet sy “hoogste aandag”. 

Mouton het aangevoer die instelling word toegelaat om voort te gaan om bo die drempel te betaal, wat ’n gevaarlike presedent vir ander staatsondernemings skep.

Theofelus sê egter die ministerie is besig om die kwessie te takel en dat nakoming bereik sal word sodra die betrokke kontrakte verval. 

“Die enigste ding wat ons nou kan doen, is om daardie kontrakte toe te laat om hul gang te gaan,” het sy gesê.

Volgens die minister sal nuwe kontrakte wat vanaf 2025 onderhandel word, in lyn met die vergoedingsbeperkings kragtens die wet op die bestuur van staatsondernemings wees.

Theofelus het beklemtoon haar ministerie praat gereeld met die NBC oor bestuurskwessies en vergader kwartaalliks met die uitvoerende direkteur om nakoming te monitor. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer