Die wenfoto van Kolmanskop en die bruin hiëna wat die spookdorp besoek het, pryk vanaf vandag in die  Natuurhistoriese Museum in Londen. Foto Wim van Heerden
Die wenfoto van Kolmanskop en die bruin hiëna wat die spookdorp besoek het, pryk vanaf vandag in die Natuurhistoriese Museum in Londen. Foto Wim van Heerden

Kolmanskop

Francoise Steynberg
Die Wildlewefotograaf van 2025 is die Suid-Afrikaner Wim van den Heever wat hierdie spookagtige toneel van ’n bruin hiëna op die verlate diamantdorp Kolmanskop vasgevang het.



“Ghost Town Visitor” is die wenner van die stedelike natuurlewe-kategorie en het Wim die titel van Wild­lewefotograaf van die Jaar 2025 besorg uit meer as 60 000 inskrywings uit 113 lande.



Wim se wenfoto, met die ­toekenning wat as die Oscars van fotografie ­vergelyk word, word vanaf vandag by die Natuurhistoriese Museum in Londen uitgestal wat die kompetisie aangebied het.



Met die seemis wat van die Atlantiese Oseaan af inrol, het Wim hierdie plek vir sy kameralokval gekies nadat hy hiënaspore daar naby opgemerk het.



Wim, wat in Pretoria woon en ’n Nikon-ambassadeur is, besoek Kolmanskop al vir ’n dekade: “Dit het my tien jaar geneem om uiteindelik hierdie enkele beeld van ’n bruin hiëna te kry, in die perfekste raam denkbaar,” het Wim gesê.



Die skaarsste hiënaspesie ter wêreld, bruin hiënas, is nagdiere en meestal alleenlopend. Hulle is bekend daarvoor dat hulle deur Kolmanskop beweeg op pad om Kaapse pelsrobwelpies te jag of aas te soek wat langs die Namibwoestynkus aan wal uitgespoel word.



“Hierdie verlate spookdorp wat voorheen ’n diamantmyn was, word stadig deur die ongenaakbare Namibwoestyn oorgeneem. Van dag een af het ek nog altyd gedroom oor ’n foto van ’n ontwykende en bedreigde bruin hiëna wat snags deur die verlate strate sluip.



“Ek het slegs een keer ’n stel hiëna-voetspore langs die ruïnes gesien,” maar Wim het geweet die gebied is bekend vir redelik goeie bruin hiëna-aktiwiteite.



Bruinhiënanavorser aan die Skedelkus, Emsie Verwey, het Wim gelukgewens met sy prestasie: “Groot blootstelling in baie opsigte, maar veral vir die bruin hiënas!”



Sy het aan Republikein gesê ’n foto van ’n bruin hiëna is nog nooit soveel keer gesien, bewonder en gedeel nie. “Die spookagtige agtergrond verleen net meer misterie aan die wolf op die voorgrond – ’n dier wat meestal misverstaan word.”



[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer