Kavango-Oos een van die armste streke

70% armoedesyfer
Phillipus Josef
Kavango-Oos het ’n armoedesyfer van 70% wat dit een van die armste streke in Namibië maak. Die syfer van die Namibiese Statistiek­agentskap is deur die parlementêre staande komitee oor armoede-uitwissing, arbeid en nywerheidsverhoudinge aangehaal wat beklemtoon het dié werklikheid het dringende ­ingryping nodig.

Die komitee se voorsitter Justine Jonas het gemaan armoede-uitwissingsprogramme in die streek moet beter gekoördineer word en ’n prioriteit wees.

Jonas het ná ’n besoek aan Kavango-Oos en -Wes in ’n onderhoud met Media Network Hub (NMH) verwys na verskeie vertragings en ondoeltreffende stelsels wat die regering se agenda vir die uitwissing van armoede steeds ondermyn.

Sy het veral gewys op die verkrygingskomitee se versuim om inkomstegenererende projekaansoeke vir die 2024/25-boekjaar te verwerk.

“Aansoeke is in Mei ingedien, maar tot op hede is geen aandag daaraan gegee nie,” het Jonas gesê. “’n Mens kan dan vra wat dit beteken vir aansoekers wat wag vir terugvoer en wat hul eie ekonomiese uitdagings en dié van hul gemeenskappe wil aanpak.”

Jonas het beklemtoon dat regeringsamptenare hul mandaat ernstig moet opneem en gewaarsku dat vertragings direk tot ontbering lei. “As ’n voorlegging nie aandag kry nie, gaan iemand daar buite honger ly, want hy of sy moes baat vind by wat veronderstel was om geïmplementeer te word,” het sy gesê.

Sy het verder die belangrikheid van direkte gemeenskapsbetrokkenheid beklemtoon en gesê dat deur na mense op die grond te luister, wetgewers in staat stel om prioriteitsgebiede te identifiseer. Sy het ook gevra dat tradisionele owerhede en streekraadslede by projekmonitering ingesluit word, met die argument dat hul uitsluiting landelike gemeenskappe sonder ’n stem laat.

“Ons het die mandaat om die mense te dien. Regeringspogings moet geïmplementeer word – nie om te kyk na wie wat doen nie – maar om te verseker dat Namibiërs dienste ontvang soos beoog is,” het Jonas gesê.

Die komitee sal na verwagting ’n verslag met sy bevindinge en aanbevelings saamstel vir voorlegging in die Nasionale Vergadering.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer