HyIron maak gereed vir eerste besending

Namibië se grootste elektroliseerder operasioneel
Die eerste 2 000 ton 'groen' yster is amper gereed vir Europese kliënte.
Augetto Graig
Augetto Graig Namibië se voorloper in die vestiging van ’n plaaslike ‘groen’ nywerheid, HyIron se Oshivela-projek, waar sonkrag groenwaterstofproduksie aandryf en gebruik word vir die direkte verwerking van ystererts, mik na sy eerste verskeping van 2 000 ton verfynde yster. Die uitvoerende direkteur van HyIron, Johannes Michels, sê die besending behoort binne vier weke na Benteler, die Oostenrykse metaalverwerkingspesialiste, verskeep te word. “Hulle [Benteler] was ook ons ​​vennote vir die eerste [fase van die] projek, so hulle ken die produk,” sê hy. “Hierdie eerste ooreenkoms vir ysterverskaffing is teen ’n soortgelyke prys gesluit as wat konvensionele yster wat met steenkool verfyn is, sou kos,” voeg Michels by. “Tans is ons in onderhandelinge met verskeie Europese [staal-]vervaardigers, insluitend sommige van hulle wat nuwe elektriese boogoonde beplan, soos in Marseille (Frankryk), in België, maar ook in ander dele van Europa waar hulle hierdie produk kan gebruik. Ons het egter ook internasionale belangstelling,” het hy verlede week ’n hoëvlak-afvaardiging van politici van die Europese Unie (EU) meegedeel. Die EU ondersteun die Oshivela-projek deur middel van sy Global Gateway-beleggingsinisiatief, wat ’n gesamentlike toelaag van 12,9 miljoen euro (N$258 miljoen) aan die SDG Namibia One Fund saam met Nederland skenk om Namibië se groenwaterstofsektor te versterk. Dié finansiering is deel van ’n strategiese vennootskap met Namibië om “groen” nywerheidsontwikkeling te bevorder. Die res van die totale belegging van 30 miljoen in HyIron is deur private aandeelhouers van Europa en Namibië gefinansier. Michels sê veral internasionale voertuigvervaardigers stel belang om HyIron-yster, wat sonder koolstofvrystellings verwerk word, te gebruik om makliker aan die Europese mark te kan lewer. Dis in die lig van Europa se meganisme vir koolstofgrensaanpassings (CBAM) wat die koste van invoere na Europa verhoog. “Byvoorbeeld, een van ons vennote, die Toyota-groep, is baie aktief in Suid-Afrika en ons kan moontlik aan hul waardeketting deelneem. “Ons bewys nou dit werk en dat ons dit kan lewer. Ons hoop egter om nie nou te veel ooreenkomste te onderteken nie, want ons verwag dat die mark meer in ons guns sal draai namate CBAM en soortgelyke meganismes stadig in werking tree,” brei hy uit. Sebastian Menne, ’n boorling van Grootfontein en die tegniese ingenieur op die Oshivela-projek, het gesê die HyIron-sonkragaanleg van 44 000 sonpanele, se maksimum kapasiteit is tans 25 MW. Die aanleg gebruik ook ’n batterystelsel wat gedurende die dag deur sonpanele gelaai word en wat die ligte by die afgeleë aanleg gedurende die aande aanhou. “Ons het geen ander energiebron nie,” het hy beklemtoon. HyIron gebruik ’n 12 MW- alkaliese elektroliseerder, die grootste in Namibië, om uit boorgatwater 1 200 kubieke meter groen waterstof vir ysterraffinering te produseer. Die waterdamp, ’n byproduk van die samesmelting van waterstof met die suurstof van die ystererts, word ook afgekoel en in die geslote stelsel hergebruik, verduidelik Menne. Volgens Michels word daar nie veel by die aanleg afgelewer nie, afgesien van die ystererts. Hy voeg by dat talle verskaffers van die projek dit as baie strategies beskou, byvoorbeeld verskaffers van sonkragprodukte wat vir die eerste keer sien hoe sonkrag direk vir ysterraffinering gebruik word. “Hulle sien dit maak ’n nuwe mark vir hulle oop en daarom geniet ons baie ondersteuning van verskeie verskaffers,” sê Michels. Daarbenewens gebruik HyIron goedkoper ystererts as wat in Europa beskikbaar is, sê hy. Volgens Michels maak dit sin om yster in Namibië te verwerk aangesien sonlig ’n groot hoeveelheid goedkoop energie kan verskaf. Op die perseel geniet hulle gemiddeld slegs 30 bewolkte dae per jaar, verduidelik hy. Die koue aande help ook om die sonpanele af te koel, wat kragproduksie gedurende die dag verbeter, sê hy. Oshivela kan tans tot 15 000 ton yster per jaar verwerk, maar daar is reeds planne om die aanleg uit te brei en die kapasiteit tot 200 000 ton per jaar te verhoog. Die huidige aanleg is binne ’n jaar gebou en sowat 400 plaaslike werkers het daaraan gewerk. Die volgende uitbreiding van die sonkragstelsel sal sowat 600 werksgeleenthede skep en kan binne ses maande van stapel gestuur word, sê hy. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer