Hollywood se gunstelingspeelgrond
The Movie Guy: Resensie
Barry de Klerk
Namibië is bekend vir baie dinge – wêreldklasbier, heerlike kos, vriendelike mense, uiteenlopende landskappe – en deesdae ook as een van Hollywood se mees gesogte filmbestemmings.
Hollywood is steeds die tuiste van die grootste lokettreffers, maar soos die bedryf verander, soek filmmakers altyd na iets nuuts. In onlangse jare was Namibië die agtergrond vir verskeie hoëprofielproduksies. Elke jaar verwelkom ons land mense van oraloor die wêreld wat ons land op film wil vasvang.
Namibië het die afgelope paar jaar ’n gesogte bestemming geword vir groot rolprent- en televisieproduksies. Ons landskappe, veral die woestyn, is perfek vir enige post-apokaliptiese verfilming. Rolprente soos Mad Max: Fury Road (foto bo) en TV-programme soos Fallout het die duine en rotse van die Namibwoestyn as agtergrond gebruik.
Dis wel nie al wat ons pragtige land bied nie. Die diversiteit van ons landskappe maak dit ’n ideale bestemming vir enige filmspan, so kom ons kyk na al die plekke waar Hollywood al was.
Ek sal ook maar in die Namib begin – spesifiek Sandvishawe of Sandvisbaai – die plek waar die Namib die Atlantiese Oseaan ontmoet. Dit lyk nie net asemrowend nie, maar is ook ideaal vir TV. Die bekende motorprogram, The Grand Tour, wat deur Jeremy Clarkson, James May en Richard Hammond aangebied is, het ook ’n episode daar geskiet.
Die duine is dalk een van die beste plekke in die land om ’n skemerkelkie te geniet, maar elke duin kan ’n storie vertel. Ander duine in die gebied het ook filmmakers gelok. ’n Gedeelte van die 2013-fliek, Zulu, is ook daar verfilm. Die laaste derde van die film is in die woestyn geskiet.
Duin 7 buite Walvisbaai het ook oor die jare ’n paar filmspanne verwelkom. Will Smith het ook ’n paar jaar gelede saam met sy kameraspan kom kuier.
Hy het gekom om ’n dokumentêre reeks, Welcome to Earth, te verfilm en saam met ’n paar Namibiërs gewerk.
’n Rukkie voor Will Smith in Namibië kom kuier het, was Tom Cruise ook hier. Hy is dalk op die oomblik die grootste filmster en in 2016 was die Namib ook ’n geruime tyd sy tuiste. Die fliek wat hy hier kom skiet het, The Mummy, was dalk ’n ramp, maar die Namib het nog nooit so mooi gelyk nie.
My gunstelingplek in ons land is die Maanlandskap buite Swakopmund. Dit lyk asemrowend. Ek is verbaas dat so min mense daarvan weet. Dit het as die hoofagtergrond vir die 2015-treffer, Mad Max: Fury Road, gedien. Die terrein van die Maanlandskap het ’n belangrike rol in hierdie post-apokaliptiese storie gespeel. Mad Max: Fury Road is steeds een van my gunstelingrolprente en dit het alles te doen met die feit dat dit hier in ons agterplaas verfilm is.
Namibië het baie om aan plaaslike en internasionale filmmakers te bied. Ek glo dat daar om elke hoek en draai ’n plek is wat jy kan gebruik om ’n storie te vertel.
Ons hoef nie altyd vir Hollywood te wag om ons te wys hoe mooi ons land is nie. Ek weet ook dat ons mense kreatief genoeg is om hul eie unieke stories te vertel, maar dit is ’n rubriek vir ’n ander dag.
Ek sal ook oor die volgende paar maande meer gesels oor ander wonderlike films en TV-reekse wat in Namibië verfilm is waarvan jy dalk nie eens weet nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie