Hollywood se gunstelingspeelgrond (vervolg)
Daar is eindelose liggings in Namibië om flieks te maak en filmmakers van Hollywood en die res van die wêreld het dit begin raaksien.
Namibië het unieke landskappe en dorpe wat pragtig op die silwerdoek lyk.
Die land het oor die jare gasheer vir verskeie rolprente, TV-reekse en dokumentêre films gespeel. Afgesien van die duine van die Namibwoestyn of die anderwêreldse voorkoms van die Maanlandskap, is daar soveel ander asemrowende plekke om rolprente te skiet.
Will Smith, Tom Hardy, Tom Cruise, Charlize Theron, Forest Whitaker en vele ander bekende akteurs het reeds tyd in Namibië deurgebring om rolprente te verfilm. Afgesien van internasionale produksies, het Namibië ook eg plaaslike, bekroonde rolprente opgelewer. Katutura, Baxu and the Giants en The White Line is net ’n paar plaaslike produksies wat internasionaal aandag getrek het.
Die beste plekke in Namibië om films te skiet, is soos volg:
Windhoek
Namibië se hoofstad lyk dalk nie na die mees voor die hand liggende keuse om ’n film te skiet nie, maar dit is. Dit word gewoonlik deur Swakopmund of die kus in die algemeen oorskadu. Tog het Windhoek reeds die verhoog geword vir verskeie plaaslike en internasionale produksies.
Onlangs het die plaaslike rolprent My F*k Marelize! opslae gemaak met sy kragtige storie en die manier waarop dit die kultuur van Windhoek uitbeeld. Dit is een van my gunstelingfilms van 2025. Die film is gesamentlik deur Multichoice Namibië en Multichoice Suid-Afrika vervaardig, maar dit voel eg Namibies.
Ander flieks soos Kapana het ook internasionale kykers se aandag getrek en dit het weer ’n ander sy van die stad gewys. Produksies soos Katutura het die stad ook op die voorgrond geplaas. Deur hierdie fliek kon beide plaaslike en internasionale gehore Windhoek werklik ervaar.
Windhoek was ook die agtergrond vir sekere internasionale produksies. Jeremy Clarkson, Richard Hammond en James May, die sterre van The Grand Tour en destyds die Britse motorprogram Top Gear, het ’n gedeelte van hul program in die hoofstad verfilm.
Swakopmund
Die land se bekendste juweel is ook die een dorp wat steeds produksies van oor die hele wêreld lok. Swakopmund het al talle film- en TV-spanne gehuisves – en dit sluit nie eens sy omliggende gebiede soos die Namibwoestyn en die Maanlandskap in nie. The Grand Tour het ook tonele in die dorp verfilm.
Swakopmund het in die 1970’s ’n gewilde ligging vir rolprentmakers geword; een van die eerste produksies in die kusdorp het die bekende Italiaanse akteur Bud Spencer na ons land gebring. Spencer het die 1978-film Piedone l’africano (Flatfoot in Africa) in Swakopmund geskiet. Dit het gedurende die 1980’s tot die belangstelling van Hollywood-filmmakers gelei.
Produksies wat in Swakopmund verfilm is, sluit in Alien from L.A. met Kathy Ireland, Red Scorpion met Dolph Lundgren en Laser Mission met Brandon Lee.
Een van die kusdorp se grootste produksies, The Prisoner, is in 2008 daar verfilm. Ian McKellen, bekend vir sy rolle as Gandalf in The Lord of the Rings en Jim Caviezel, bekend vir sy rol as Jesus in The Passion of the Christ, het in die reeks gespeel. Verfilming het oor 18 weke binne en buite die dorp plaasgevind.
Daar is nog vele ander wonderlike plekke om flieks te verfilm wat rolprentmakers onlangs begin ontdek het, soos Lüderitz en Kolmanskop. Ons gaan volgende week daaroor gesels.– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie