Hollywood se gunsteling-speelgrond – Deel 3

The Movie Guy
Iréne-Mari van der Walt
Wanneer jou land so mooi is soos Namibië, weet jy die hele wêreld sal ’n stukkie daarvan wil hê.

Namibië bied baie vir toeriste, maar hulle is nie die enigstes wat na ons land gelok word nie. Filmmakers en vervaardigers van regoor die wêreld begin die diversiteit van Namibië raaksien en ek weet ons plek het baie om te bied. Alles van die Namib se duine tot by die riviere in die Noorde maak vir pragtige tonele.

Rolprentvervaardigers wat Namibië as ’n verfilmingsplek kies, het die land in ’n nog groter toeristebestemming omskep. Daar is steeds ’n lang pad om te stap, maar die aantal filmprojekte wat jaarliks in Namibië geskiet word, neem steeds toe. Die landskappe lok nie net filmmakers nie, maar ook dokumentêre filmspanne.

TV-programme soos The Amazing Race is ook al in Namibië verfilm. Kanale soos National Geographic, Discovery Channel en Animal Planet het ook van ons diverse wild- en plantlewe kennis geneem. Kom ons kyk na nog ongelooflike plekke wat rolprentmakers na Namibië gelok het.

ETOSHA NASIONALE PARK

Een van die grootste nasionale parke in die land kan dien as die perfekte plek vir programme wat die wildlewe wil vasvang. Die park huisves vier van Afrika se Groot Vyf, saam met honderde ander soogdier-, reptiel- en voëlspesies. Gedurende die reën- of vloedseisoen is daar ook ’n oorvloed ­vis- en amfibiese spesies.

Een van die eerste ­dokumentêre films wat by Etosha verfilm is, is deur David en Carol Hughes vir National ­Geographic, en dit is in Januarie 1981 vertoon. Getiteld Etosha: Place of Dry Water, het van die park se watergate dopgehou en kykers bekend gestel aan die drink- en voedingsgewoontes van jagluiperds, leeus, springbokke, paddas en baie ander diere.

Die dokumentêr het die deur oopgemaak vir filmmakers en gou het baie ander produksies hul pad na Namibië gevind. In 1997 het die aktrise Holly Hunter ook Etosha Nasionale Park besoek om In the Wild: Cheetahs with Holly Hunter te verfilm. Hunter wou graag die diere eerstehands sien.

In die program is Hunter deur die park gelei en het sy gekyk na die oorsake van die dalende jagluiperdbevolkings. Sy het ook deelgeneem aan die rehabilitasie van ’n jagluiperd en sy vrylating terug in die natuur.

LüDERITZ

Lüderitz is ’n versteekte juweel, maar die afgelope tyd het dit baie aandag getrek. ’n Paar filmspanne het van die sentrale kus na hierdie pragtige dorp in die Suide verskuif. Die dorp self leen hom perfek tot die silwerdoek, maar dit is die omliggende gebiede waar die rolprent towerkrag gebeur.

Een van my gunstelingreekse van die afgelope paar jare, Fallout, het ’n groot deel van die reeks by ­Kolmanskop verfilm. Die spookdorp het perfek gepas in die reeks se post-apokaliptiese omgewing. Ek was so opgewonde daaroor dat ek die reeks aan almal aanbeveel het wat net vir my hallo gesê het. Seisoen 2 van hierdie reeks is in Desember op Prime Video beskikbaar.

In Deel 4 van hierdie reeks gaan ons na meer binnelandse filmbestemmings kyk. Ek kan nie ’n rubriek afsluit sonder om ’n paar films by die bioskoop aan te beveel nie. The Smashing Machine met The Rock is nou uit en moenie ’n generiese ­aksiefliek verwag nie. Dié een is iets heeltemal anders.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer