Grondgrype op Groot Aub neem aansienlik toe
Onwettige verkope ruk glo handuit
Wydverspreide grondgrypery op Groot Aub word deur die munisipaliteit van Windhoek as een van die ergste voorvalle sedert onafhanklikwording in Namibië beskou.
In reaksie op navraag het Stad Windhoek (CoW) se woordvoerder, Lydia Amutenya, gesê die situasie was nóg erger voor CoW in 2017 sy grense uitgebrei en dié nedersetting oorgeneem het.
“Groot Aub was ’n spilpunt van wetteloosheid met onbeheerde grondgrypery en landboubedrywighede,” sê sy.
“Met die oorname het die stadspolisie ’n teenwoordigheid gevestig om grondbesettings te bekamp,” brei sy uit.
Sy sê die bevolkingsgroei in Groot Aub het van 2 716 in 2009 tot 8 977 inwoners in 2016 toegeneem.
Die vrae aan CoW is aangespoor deur die pleidooi van die Stumpfe-familie, wat al meer as honderd jaar op Groot Aub boer en woon.
Die vier geslagte wat tans daar woon, word op elke grens ingeperk en hul weivelde word stuk vir stuk afgevat deur onwettige heinings wat rondom sinkhuisies opgerig word en wat dag en nag op Groot Aub opskiet.
Volgens Jan Stumpfe (74) maak die munisipaliteit geen voorsiening vir Groot Aub se inwonende boere nie.
“Wat sal van ons word as ons nie meer weiveld het nie?” vra hy.
“Daar kom mense in wat grond gryp, grond verkoop, en ons het by die regering gekla, maar niks word gedoen nie. Hulle gaan net aan en die misdaad neem net toe. Heinings word geknip, diere word gesteel,” sê hy.
Tussen Mei en einde Julie vanjaar is tot 70 beeste glo onwettig langs die hoofpad na Groot Aub geslag, maar volgens Stumpfe is “niemand nog gevang nie”.
Die Namibiese polisie (Nampol) kon egter nie dié syfer bevestig nie en ondersoek slegs een klag wat in September aanhangig gemaak is, met geen arrestasies tot dusver nie.
Stumpfe sê mense gaan voort om erwe te verkoop.
“Ek weet nie wat hulle met die geld doen nie, wie kry die geld? Die geld word in private mense se sakke gesteek en hulle lewe lekker daarvan en ons mense moet krepeer.
“Daar is soveel mense, soveel kinders van Groot Aub wat erwe nodig het, wat grond benodig, maar ander kom van ander dorpe en hulle kom vat grond vir hulself.
“Grond word aan hulle verkoop sonder enige bewys dat hy ’n grondtitel van enigiemand het,” sê dié lewenslange inwoner van Groot Aub.
Volgens Nampol se hoofwoordvoerder, adj.komm. Kauna Shikwambi, is die klagtes rakende die onwettige verkoop van erwe inderdaad bekend in die gebied en ook aan die polisie.
“Dis egter ’n saak vir die raad en daarom behoort die substantiewe kantoor [CoW] amptelike sake en klagtes aanhangig te maak indien daar enige erwe verkoop word, sodat aanklagte vir ondersoek geopen kan word,” voer sy aan.
Volgens Amutenya is daar tans ’n hofsaak aan die gang wat enige wettige grondverkope op Groot Aub verbied. Amptelik word “geen erwe verkoop nie,” het sy gesê.
Volgens die Stumpfe-familie word die erwe egter vir tussen N$30 000 en N$70 000 verkoop, hoewel CoW nie ’n sent daarvan invorder nie.
“Slegs CoW is gemagtig om grond binne die stadsgrense te verkoop, behalwe vir private grond.
“Enigiemand anders wat grond op Groot Aub verkoop of voorgee om dit toe te ken, tree onwettig op en moet by die munisipaliteit aangemeld word,” sê Amutenya.
“Tans is CoW nie betrokke by enige grondverkope op Groot Aub nie, as gevolg van die voortgesette regsgeding,” brei sy uit.
Inwoners wat grond wettig verkry het, selfs voor die uitbreiding van die grense van Windhoek sal volgens Amutenya beskerm word deur ’n proses om die wettigheid van sulke toekennings vas te stel en vervolgens sulke toekennings te wettig.
“Dit is egter belangrik om daarop te let dat slegs grond binne die wettig beplande dorpsuitbreidings van Groot Aub moontlik wettige eienaarskap sal kan kry, aangesien dit die grond is wat oordraagbaar is.
“Dié buite die formele dorpsuitbreidings sal deur ’n ander proses hanteer word, wat huurkontrakte sal insluit,” sê sy.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie