Die Shambyu Tradisionele Owerheid het grond aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste vir die konstruksie van ’n nuwe hospitaal beskikbaar ­gestel. Foto Phillipus Josef
Die Shambyu Tradisionele Owerheid het grond aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste vir die konstruksie van ’n nuwe hospitaal beskikbaar ­gestel. Foto Phillipus Josef

Grond toegeken vir nuwe Rundu-hospitaal

Phillipus Josef
Eerste minister Elijah Ngurare het die Shambyu Tradisionele Owerheid bedank vir die 30 hektaar grond by Kayengona, ongeveer 10 km buite Rundu, wat as die ligging van ’n nuwe intermediêre hospitaal gebruik sal word.

Dié langverwagte geriewe sal na verwagting die druk op die oorvol staatshospitaal op die dorp verlig, wat tans pasiënte nie net van Kavango-Oos en -Wes bedien nie, maar ook van Zambezi en naburige Angola.

Volgens Kavango-Oos se direkteur van gesondheid, Idah Mendai, verkeer die hospitaal tans onder geweldige druk weens bevolkingsgroei en die uitgebreide opvangsgebied van pasiënte. Die hospitaal is reeds van ’n distrikshospitaal na ’n verwysingshospitaal opgegradeer.

“Dienste is tans weens ruimte saamgevoeg. Met byna 118 000 mense net in Rundu kan ons nie langer al die pasiënte in die bestaande hospitaal akkommodeer nie,” het Mendai gesê.

Sy het bygevoeg die grond sal gebruik word vir die konstruksie van ’n volledig toegeruste intermediêre hospitaal. Die huidige hospitaal sal gevolglik terugkeer na dienslewering as ’n distrikshospitaal.

“Dis goeie nuus. Angola maak op sommige van ons dienste staat en dit is dus noodsaaklik dat ons uitbrei en behoorlik vir toekomstige behoeftes beplan,” het Mendai verduidelik.

Die beplanning en logistieke voorbereidings sal onmiddellik afskop, met voorleggings wat aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gedoen sal word om begrotings en lewensvatbaarheidstudies voor die aanvang van konstruksie te lei.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer