Glansboek vereer stigterspresident

Michael Kayunde
Die Sam Nujoma-stigting het Dinsdag ’n mylpaal gevier met die bekendstelling van ’n koffietafelboek wat die lewe en na­latenskap van Namibië se stigters­president, dr. Sam Nujoma, vier.



Die boek, wat deur die New Era ­Publication Corporation gepubliseer en deur United Africa Group geborg is, is amptelik deur die voormalige president Nangolo Mbumba tydens ’n seremonie bekendgestel wat Nujoma se lewe en leierskap vereer.



Die boek getiteld Celebrating a Life of a Revolutionary and African Icon vang die kern van Nujoma se lewe en prestasies vas - van sy nederige begin naby Etunda in Okahao tot die argitek van Namibië se onafhanklikwording.



In sy hooftoespraak het Mbumba Nujoma beskryf as ’n “voorbeeld van dapperheid in die aangesig van ­teëspoed”.



“So ‘n leier verdien om gevier te word,” het Mbumba gesê en die boek se rol in die bewaring van die enorme nalatenskap van die vryheidsvegter en eerste president van ’n onafhank­like Namibië beklemtoon.



“Deur hierdie boek met sy aangrypende foto’s, sal huidige en ­toekomstige geslagte steeds lesse uit sy besonderse lewe leer en deur sy dapper dade geïnspireer word.”



Martha Namundjebo-Tilahun, die voorsitter van die United Africa Group, het die boek se opvoedkundige waarde beklemtoon: “Hierdie boek dien as ’n herinnering, ’n tasbare band met ons verlede, wat ons en nog belangriker, ons kinders en kleinkinders toelaat om met die geskiedenis te verbind.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer