Gesoek: Teerpaaie vir Rundu

Dorpsraad moet binne twee weke plan indien
Die dorp het net sowat 40 km van geteerde paaie in vergelyking met Windhoek se ­uitgebreide netwerk.
Phillipus Josef
Phillipus Josef

Rundu se dorpsraad moet die opgradering van die dorp se paaie prioritiseer, aangesien die huidige netwerk nie in die ­aanvraag van ’n vinnig groeiende bevolking voldoen nie.

Volgens eerste ­minister Elijah Ngurare het Rundu, as Namibië se tweede grootste dorp met meer as 100 000 ­inwoners, minder as 10% van Windhoek se dekking van teerpaaie. Ngurare het tydens sy besoek aan die Kavango-Oosstreek gesê die dorp het sowat 500 km van ordentlike paaie nodig om makliker toegang vir mense te ­verseker.

Hy het gesê die dorpsraad is twee weke gegee om ’n omvattende plan op te stel wat prioriteitsgebiede vir die ontwikkeling van paaie identifiseer.

Ngurare het verder opdrag gegee dat die plan nie net aan sy kantoor voorgelê moet word nie, maar ook aan die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling vir opvolgaksie.

LEWENSGEHALTE

Die streekingenieurs­bestuurder van die Paaiewerheid (RA), Kennedy Chigumira, het die omvang van die probleem uitgelig en gesê Rundu “het nie eens die helfte van 10% van wat ­Katutura in Windhoek in terme van teerpaaie het nie”.

Dit ten spyte van die dorp se grootte en be­lang­­rikheid. Hy het ­beklemtoon dat hierdie ­wanbalans nie net inwoners se daaglikse mobiliteit belemmer nie, maar ook toegang tot ­kritieke dienste soos skole en ­polisiekantore.

Chigumira het verduidelik dat tot op hede slegs sowat 22,4 km van Rundu se paaie opgegradeer of gerehabiliteer is. Dit sluit in die rehabilitasie van Dr. Sam Nujoma Fase 1 (2,8 km), die ­rehabilitasie en verbreding van Dr. Sam Nujoma Fase 2 (2,4 km) en die ­rehabilitasie van Dr. Sam Nujoma Fase 3 (2 km). Daarbenewens is 1,6 km van die John Mutorwa-grondpad, voorheen verbind met die Landboubemarkings- en Handelsagentskap (Amta), opgegradeer, tesame met ’n 1 km lange dubbele verkeersirkel op die TR08-04.

RA het ook toesig ge­hou oor die opgradering van 2,5 km van die Univer­siteit van Namibië (Unam) na Dr. Samuel Kavetu Mbambo-grondpad na teerstandaard, asook 10,1 km vanaf die Unam-aansluiting na die Senior Sekondêre Skool Maria Mwengere.

Chigumira het beklemtoon dat die voorsiening van ten minste 200 km teerpaaie Rundu se status aansienlik sal verbeter en aan die verwagtinge van inwoners en belanghebbendes sal voldoen.

Gabriel Kanya­n­ga, die burgemeester van Rundu, het die dringend­heid van die saak erken en gesê dat die raad Ngurare se opdrag ernstig sal opneem. Hy het bygevoeg dat die raad ook plaaslike belanghebbendes en tegniese kundiges sal betrek om te verseker dat die plan prakties, kostedoeltreffend en in ooreenstemming is met die dorp se langtermyngroei. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer