• Tuisblad
  • Plaaslik
  • Gertze: Geleenthede in ||Kharas is werklik en transformerend
Die goewerneur van die ||Kharasstreek, Dawid Gertze. Foto Otis Daniels
Die goewerneur van die ||Kharasstreek, Dawid Gertze. Foto Otis Daniels

Gertze: Geleenthede in ||Kharas is werklik en transformerend

‘Konstruksieraad kritiek belangrik vir streek’
Otis Daniels
Die goewerneur van die ||Kharasstreek, Dawid Gertze, het ’n beroep gedoen op plaaslike dienste en besighede om ten volle geïntegreer te word in die nuwe waardekettings wat oraloor die streek ontwikkel.

“Geleenthede van hawe-uitbreidings en energie-ontwikkelings tot behuising, logistiek en toerisme in ||Kharas is beide werklik en transformerend.

“Een beginsel is ononderhandelbaar: Namibiese maatskappye moet die kern van hierdie ontwikkelings wees,” het Gertze tydens sy toespraak by die opening van die Federasie vir die Konstruksiebedrywe van Namibië (CIF) se forum vir infrastruktuurontwikkeling beklemtoon, wat Dinsdag by Lüderitz se ou kragstasie begin het.

Ongeveer 100 afgevaardigdes van die konstruksie- en verskaffingsbedryf woon dié driedaagse geleentheid by wat vandag eindig, met die tema “’n Strategiese blik op die infrastruktuurpyplyngeleenthede in Lüderitz en die ||Kharasstreek”.

Gertze het beklemtoon hoewel gesonde mededinging noodsaaklik vir die bevordering van gehalte, vernuwing en waarde is, deursigtige en billike stelsels nodig is om te verseker dat plaaslike kontrakteurs reeds van die begin af by die proses ingesluit word, en nie per toeval nie.

“Plaaslike besighede kan nie bloot toeskouers wees nie. Hulle moet aktiewe deelnemers wees, vennootskappe smee en die voordele van hierdie geskiedkundige geleenthede pluk.

“Dit vereis doelbewuste kanale vir plaaslike kontrakteurs en verskaffers, wat gesamentlike ondernemings en reëlings vir subkontraktering bevorder wat vaardighede oordra en blywende kapasiteit bou.”



BALANS NODIG

Hy het bygevoeg ’n balans is nodig tussen die bevordering van plaaslike deelname en die handhawing van regverdige en oop mededinging.

“Namibië is onomwonde oop vir besigheid en beleggings. Proteksionisme is nie ons benadering nie; ons benadering moet egter gebalanseerd en strategies wees.

“Om dit te bereik, benodig ons robuuste strukture,” het Gertze gesê.

Die goewerneur het ook die CIF se beroep vir die stigting van ’n konstruksieraad in Namibië onderskryf en dit as kritiek belangrik vir die streek beskryf.

“So ’n liggaam sou maatskappye registreer en gradeer, die omvang van die projek met die kapasiteit van die kontrakteur in lyn bring, opleiding en sake-ontwikkeling ondersteun, en ’n omvattende oorsig van ons hele bedryf bied.”

Gertze het verder Fluksman Samuehl, die uitvoerende hoof van die Lüderitz Waterfront Development Company (LWDC), en sy span, sowel as die CIF geloof.

“Vir meer as twaalf jaar het die LWDC toekomsvisie getoon en sowat N$500 miljoen in plaaslike infrastruktuurbeleggings gefasiliteer lank voordat olie, gas en groen waterstof ’n nasionale gesprek geword het.

“Hul leierskap duur voort met N$20 miljoen in nuwe projekte wat tans aan die gang is,” het hy gesê.

Hy het die CIF as die dryfkrag agter die forum geprys.

“Hierdie geleentheid verenig belanghebbendes, bevorder oplossings en ondersteun inklusiewe deelname.

“Hul leierskap het, wat as ’n idee begin het, in ’n nasionale gebeurtenis omskep, en daarvoor verdien hulle ons waardering.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer