No Image Caption

Genadedood vir diere op Otjiwarongo deeglik bedink

Henriette Lamprecht
Die besluit om ’n groep katte en honde wat in die sorg van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se tak op Otjiwarongo was, uit te sit, is geneem ná deeglike ondersoeke deur ’n veearts en in ooreenstemming met die kriteria van die vereniging se beleid vir genadedood vir diere.

Die rede vir die besluit was onder meer om die verspreiding van hoogs aansteeklike siektes deur siek en onbehandelbare diere na ander te voorkom. In die geval van die katte was die diere wild en die kans was skraal dat hulle buite die hokke by ’n normale tuiste sou aanpas en hervestig kon word.

’n Ervare en kundige span wat veeartse ingesluit het, het elke enkele dier ondersoek en geëvalueer voordat die besluit geneem is om hulle uit te sit, sê Tjitja Harases, die voorsitter van die DBV op Otjiwarongo.

Die besluit, wat sommige op sosiale media beweer tot 30 katte ingesluit het, het hewige kritiek en emosie op die dorp en ook die res van Namibië uitgelok. Bewerings is gemaak dat die diere “lewend” verbrand is, gesonde diere uitgesit is en selfs dat diere wat reeds belowe was aan mense wat sou ingestem het om nuwe tuistes aan hulle te gee, ook van kant gemaak is.

Volgens Harases is die oorskot van die diere verbrand om die verdere verspreiding van siektes te voorkom en dit is in ooreenstemming met munisipale regulasies gedoen. Met verwysing na diere wat glo reeds ’n tuiste sou hê, het sy gesê die betrokke mense wat belangstelling getoon het, is elkeen gebel voordat die betrokke diere uitgesit is.

“Daar was egter geen betaling of aannemingspapiere in plek nie. Ja, jy kan belangstel, maar dit beteken niks as daar nie stappe gedoen is om die proses te begin of af te sluit nie,” het Harases verduidelik.

Een van dié diere was Oubaas, wat tien jaar gelede as ’n jong hond by die DBV op die dorp aangeneem is en toe jare later op sy oudag weer daar beland het.

“Die persoon wat aangebied het om hom ’n nuwe tuiste te gee, is gebel en daar is verduidelik dat hy op sy sterfbed is.”

Sy het beklemtoon die “uiters moeilike besluit” om die diere uit te sit, is deur ’n span met ervaring en mediese kennis geneem. Op die vraag waarom die siek diere nie net behandel kon word nie, het Harases gesê “om ’n dier wat geen hoop het nie te behandel, vat die kans weg van die ander wat dit ook nodig het”.

Met verwysing na doodsdreigemente en persoonlike aanvalle teen die tak se bestuurder, het Harases beklemtoon die persoon het geen aandeel gehad in die besluit om die diere te laat uitsit nie. Sy het wel erken dat verskeie klagtes teen die bestuur ontvang is, wat daartoe gelei het dat ’n amptelike ondersoek van stapel gestuur is.

“Onlangse verval in protokol en bestuur binne die bestuur van ons hokke het ons vermoë belemmer om optimale sorg te verskaf.

“Ons erken die erns van hierdie kwessies en is aktief besig om omvattende hervormings te implementeer om te voorkom dat sulke voorvalle weer herhaal word.”

Harases het ook bevestig dat die takbestuurder Dinsdag gevra is om die perseel te verlaat om ongehinderd ’n onafhanklike ondersoek van prosedures en bestuurspraktyke uit te voer. Opleiding van personeel in dieresorg, etiek en besluitnemingsprotokol gaan opgeskerp word, terwyl rekordhouding en kommunikasieprosesse by die tak verbeter sal word om deursigtigheid en verantwoordbaarheid te verseker.

Die tak is intussen gesluit en net noodoproepe word hanteer om “ons huis in orde te kry” en “interne opgraderings te doen”.

’n Span uit Windhoek sal ook volgende week ’n opvolgbesoek aan die tak bring.

“Ons het begrip vir die gemeenskap se hartseer en woede. Wees verseker hierdie voorvalle weerspieël nie die standaarde wat ons handhaaf of die deernis wat ons vir al die diere in ons sorg het nie.”

Een van die kommentare op die tak se Facebookblad deur iemand wat al jare by die DBV betrokke is, het daarop gewys dat personeel en vrywilligers ’n “uiters emosionele werk het” en wat “regtig harde besluite moet neem”.

“Die werklikheid is dat enige skuiling ’n hoë stres ruimte vir die diere is. Om ’n besluit te moet neem om een dier te behandel wat tot ’n astronomiese veeartsrekening kan lei of om nog vyf diere te kan red, is wat hulle moet oorweeg,” lui die inskrywing.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer