Foto ter illustrasie/argief
Foto ter illustrasie/argief

Geen borgtog vir man wat glo twee leeus skiet

Jesse Kauraisa
Jesse Kauraisa

’n Man van die Okatitu-nedersetting in die Omusa­tistreek is Maandag borgtog in die landdroshof op Outapi geweier nadat hy glo onwettig twee leeumannetjies geskiet het.

Ngatangue Turitjo (59) is verlede Vrydag in ­hegtenis geneem en sy saak is tot 10 November uitgestel. Volgens sy familielid, Tjupii Turitjo, spruit die saak uit drie leeus wat sedert Julie amok onder hul diere saai. ’n Hond, ’n donkie en twee beeste was glo die slagoffers van mens-leeu-konflik.

Tjupii het aan Network Media Hub (NMH) gesê die leeus teister die gemeenskap sedert Julie nadat sy hond eerste deur ’n leeu gevang is.

Hy sê hy het beamptes van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme (MEFT) op Opuwo gebel, maar hulle het hom na die kantoor op Ruacana verwys omdat Okatitu in die Omusatistreek val.

“Natuurbewaringbeamptes het uitgekom om foto’s te neem en het weer vertrek. Daarna is ’n donkie deur die leeus aangeval,” het Tjupii gesê.

Toe die twee ou leeumannetjies die twee beeste gevang het, het die gemeenskap volgens hom probeer om die leeus te verwilder. Tjupii het toe die beskuldigde vir hulp gebel wat toe die leeus geskiet het.

“Ons bel altyd vir MEFT, maar hulle het niks gedoen nie,” het Tjupii moedeloos gesê en bygevoeg hulle is ontevrede dat sy familielid nou agter tralies is weens mens-leeu-konflik.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer