Gebou op geloof

Gemeenskapsgees speel ’n groot rol
Petite Bites op Hentiesbaai is veel meer as net 'n winkel – dit is 'n kreatiewe mark onder een dak.
Leandrea mouers
Leandrea Mouers

Destyds, in 2021, was dit net ’n stalletjie, maar vandag is dit ’n gevestigde winkel.

Petite Bites, geleë in die hartjie van Hentiesbaai, is die breinkind van Renchia Engelbrecht.

Wat begin het as ’n eenvoudige poging om haar tuisgemaakte produkte met die publiek te deel, het binne vier jaar ’n gevestigde onderneming geword. Op 26 Junie 2025 het Engelbrecht, na vele gebede, die groot stap van geloof geneem om haar besigheid na ’n splinternuwe gebou te verskuif.

“Ons het klein begin, maar die ondersteuning was oorweldigend. Vandag werk ek saam met 19 kreatiewe mense wat hul handgemaakte produkte by ons verkoop en vier bakkers wat my help om die bestellings betyds te lewer,” vertel sy.

Petite Bites is veel meer as net ’n winkel – dit is ’n kreatiewe mark onder een dak. Hier kan jy smul aan meer as 25 soorte ingelegde produkte, tradisionele koekies en beskuite, koeksisters en ander soetighede. Engelbrecht en haar span maak ook yskasterte, warm poedings, muffins, koeke, verjaardagkoeke en selfs spoggerige borde versnaperinge vir spesiale geleenthede op bestelling.

Daarby bied die winkel ook ’n indrukwekkende reeks handgemaakte produkte aan soos onder meer voorskote, gebreide en gehekelde klere, kinderrokke, hondejassies, geborduurde items, kunswerke, glas- en houtborde, geverfde klippe, sleutelhouers asook gegeurde kerse en badseep.

Bestellings kan volgens kliënte se voorkeur gemaak word – iets wat Petite Bites laat uitstaan as ’n plek waar elke item persoonlike aandag geniet.

Met die toekoms in gedagte, droom Engelbrecht daarvan om haar produkte landswyd beskikbaar te stel.

“As dit ons Vader se wil is, wil ons ons aanbod uitbrei na sowat 120 ingelegde produkte en bestellings uit alle dele van die land aanvaar,” vertel sy.

Sy sien ook haar winkel as ’n platform waar ander kreatiewe entrepreneurs kan groei. Elke handgemaakte item in die winkel vertel die verhaal van iemand se talent en Engelbrecht glo dat hierdie gemeenskapsgees ’n groot rol in Petite Bites se sukses speel.

Wanneer sy ander klein sake-eienaars moet aanmoedig wat droom om hul besighede uit te brei, sê Engelbrecht sonder aarseling: “Vertrou op ons Vader, bid en glo. Advertensies is belangrik, maar bowenal moet jy jou werk tot eer van God doen.

“Hy maak deure oop wat ons nie eens besef moontlik is nie. Almal is spesiaal geskape – haal jou talente onder die maatemmer uit en jy sal geseën word. Guns ander ook om te floreer.”

Die winkel is geleë tussen Spar en Magic, oorkant Tjoppies Vleismark en aanvaar kontant en eWallet. ’n Kaartmasjien is ook op pad.

“Ons nooi almal vriendelik uit om ’n draai by Petite Bites te kom maak. Kom proe ons tuisgebak, soek deur ons handgemaakte produkte en ervaar die liefde waarmee elke item gemaak is.

“Ons winkel is gebou op geloof, harde werk en gemeenskap – en dit is juis wat ons met elke besoeker wil deel.”

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer