Fotograaf het verbrande diere wel by Okaukuejo aangemeld
MEFT nie bekommerd oor weiding
Francoise Steynberg
Koos Reyneke, die kranige fotograaf wat die grusame foto’s van die verbrande olifant en -kalfiekarkas Sondag in die Etosha Nasionale Park geneem het, se foto’s is beslis nie gedokter nie.
Die argitek wat in Windhoek woon, het gister tydens ’n onderhoud met Republikein en Kletskompas gesê hy het omtrent ’n byenes met sy foto’s oopgekrap wat op voorblaaie pryk en wyd op sosialemediaplatforms gedeel is.
“Ek is omtrent in die moeilikheid,” het hy geskerts nadat hy daarvan beskuldig is - ook deur die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme (MEFT) - dat die foto’s nie eg is nie, deur kunsmatige intelligensie (AI) gegenereer of gemanipuleer, of in die verlede in Etosha geneem is.
MEFT-woordvoerder Ndeshipanda Hamunyela, het die egtheid van Koos se foto’s bevraagteken, asook die bosboudirekteur, Johnson Ndokosho, wat tans in Mosambiek is.
Die woordvoerder het ook bevraagteken waarom die fotograaf nie die karkas en beseerde olifant aangemeld het nie.
“Ek het dit by Okaukuejo by die kantoor aangemeld, maar moes drie ure wag,” het hy benadruk.(Kyk na die onderhoud met Koos in gister se Kletskompas by https://oneuptwo.com//show?rug9kb4gsukf5miflqb7.)
PIKSWART
Hy en sy vrou, Paulette, het Saterdagaand op die plaas Kaross aangrensend aan die suidwestelike kant van Etosha geslaap waar hy foto’s geneem het. Op Kaross het dit verlede Maandag al gebrand nadat die vuur glo op die hervestigingsplaas Helaas ontstaan en versprei het.
Die egpaar is Sondagoggend vroeg deur die Galtonhek waar hul voertuig “van hoek tot kant deursoek is - vir van plastieksakke tot hommeltuie”.
Koos beskryf die westekant van Etosha as pikswart en die eerste foto wat hy met sy kamera, ’n Nikon Coolpix P1 000 met ’n 3 000 mm-lens geneem het, was van ’n uil op ’n nes in ’n boom.
Toe kom hulle op die karkas van ’n olifantkalfie af wat hoogs traumaties vir hulle was. Daarna het hulle by die watergat langs die Charl Maraisdam, sowat 55 km wes van Okaukuejo, op die flenterolifant met die brandwonde afgekom.
“Dit was ontstellend om te sien met sy ore wat gebrand is en velle wat gehang het. Die olifant het met sy slurp modder opgeskep en oor sy lyf gegooi, seker om die pyn te verlig.”
Daarna het hy die voorvalle by Okaukuejo aangemeld. Koos sê hulle het geen ander beseerde diere gesien nie, behalwe ’n gehawende leeu met ’n beseerde poot, “dalk weens die brand of in ’n geveg”.
Koos, gebore in Pretoria en grootgeword in Botswana, is ’n kranige fotograaf en het Etosha al 17 keer in die afgelope vyf jaar besoek. “Destyds met my eerste salaris het ek my eerste kamera, ’n Minolta SRT 101 met ’n 1,4 lens teen N$150 gekoop.
“Ek redigeer of peuter geensins aan my foto’s nie. Ek sal hoogstens die foto verlig of verdonker of iets oorbodig soos ’n paal uitsny,” het hy bevestig en verskeie ander van sy foto’s gewys.
PRIVATE VEEARTSE
Intussen het die bekende wildveearts, dr. Ulf Tubbesing van Wildlife Vets Namibia, aangedui hy sal bereid wees om te help met die praktiese hantering van beseerde diere wanneer hy nie reeds tot ’n werk verbind is nie.
“Ek is egter bevrees dat die meeste van hierdie pasiënte uiters intensiewe behandeling sal benodig wat fasiliteite vereis wat eenvoudig nie beskikbaar is nie,” het hy gesê.
Tubbesing voeg by die koste van medikasie en materiaal sal buitensporig wees.
“In die meeste gevalle glo ek dat die natuur sy gang sal gaan en die beste wat ons kan doen is om daardie diere met ’n nulprognose van lyding te verlig.”
Tubbessing het tydens ’n veldbrand op sy plaas derdegraadse brandwonde oor 25% van my liggaam opgedoen en weke in die hospitaal deurgebring met veloorplantings. “Ons moet realisties wees in ons benadering!”
Hy sê die besluit berus egter by MEFT om private veeartse se hulp te aanvaar.
“Natuurlik sal ons MEFT nodig hê om ons toe te laat of te vra om te help. Ons het ’n fonds van ongeveer N$100 000 wat ons vir medikasie ensovoorts vir hierdie doel kan bekom.”
Dr. Laurie Marker, stigter van die Cheetah Conservation Fund (CCF) buite Otjiwarongo het ook hul ondersteuing bevestig: “MEFT moet weet dat ons almal hier is om te help as hulle hulp wil hê of benodig.”
Bennett Kahuure, direkteur van nasionale parke en wildlewe in MEFT, het op die vraag of die hulp van private veeartse aanvaar sal word, gesê die ministerie het al hul veeartse aan Etosha toegewys.
“Private veeartse is op hierdie stadium nie nodig nie, aangesien ons voortgaan om die situasie te assesseer.”
Hy sê hulp kan aan die fonds vir veeartsvoorrade deur hul noodafdeling aan die uitvoerende direkteur aangebied word. “’n Amptelike brief sal welkom wees.”
Kommer heers ook of daar genoeg weiding vir die wildlewe in Etosha voor die reënseisoen sal wees. “Gebaseer op ons lugwaarnemings oor die afgelope vier dae of so, is daar meer as voldoende weiding vir wildlewe,” het Kahuure bevestig.
ONBESONGE HELDE
Nóg ’n held in Namibiërs se oë, Johan le Roux, wat met sy satellietkaarte op JLR Consulting se Facebookblad op die hoogte gehou het oor die verspreiding van die Etosha-brand, het geskryf: “Ek het 13 jaar lank as ’n veldwagter en later as ’n wetenskaplike in Etosha in die 1990’s en vroeë 2000’s gewerk. Ek is sedertdien betrokke by brandmonitering, en daarom onthou ek die 2011-brand suid van Halali.”
Hy skryf in September 2011 het veldbrande wat van naburige plase, vermoedelik ook weens houtskoolproduksie na die Etosha versprei het, die lewens van sowat 30 renosters, 60 kameelperde en 11 olifante geëis.
“Die massiewe brand het ’n beduidende 370 000 hektaar (sowat ’n derde van die park) verswelg.
“Die brand het die gevare van veldbrande veroorsaak deur mense in droë gebiede beklemtoon en gelei tot verhoogde fokus op voorkomende brandpraktyke in Etosha. Dit het ook pogings aangespoor om die park se brandregime meer doeltreffend te bestuur en weg te beweeg van aggressiewe brandbestryding na meer gebalanseerde benaderings wat beplande brande insluit om dit teen groot, katastrofiese brande te beskerm,” sê Le Roux.
Hy beraam altesaam 9 534 km2 (953 400 hektaar) het in beide Etosha-veldbrande en gebiede noord en suid van die park afgebrand: Dit sluit in binne Etosha 7 577 km2 (die hoofbrand en brand by Ombika), kommunale gebiede noord van die park 870 km2 en op plase suid van die park 51 km2.
Klik op die skakel om na die video van JLR Consulting te kyk: https://q.my.na/A7FT
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie