Dwelmnes

-
-
Aurelia Afrikaner

Dit moet ‘n plek van vrede, herinnering en waardigheid vir die oorledenes en hul naasbestaandes wees. In die plek daarvan het dit ‘n brandpunt van alkohol- en dwelmmisbruik en kriminele aktiwiteite op Okahandja geword. Terwyl baie inwoners vroegoggend werk toe gaan, gaan 'n ander groep jongmense in die teenoorgestelde rigting, reguit na die Okahandja-begraafplaas.

In die middel van die begraafplaas is ‘n verlate struktuur, sonder dak en sonder vensters, die daaglikse vergaderplek van jongmense wat ‘n plek weg van die oë van die publiek soek waar hulle ongehinderd kan rook en drink. 

Network Media Hub (NMH) het die begraafplaas op 'n Vrydagoggend besoek en groepe jong mans dopgehou wat die begraafplaas binnegaan en verlaat. Vroue wat diep in gesprek werk toe stap, het vir ‘n oomblik gestop toe hulle die ingang van die begraafplaas nader. 

"Die seuns is op pad vir die oggend se rooksessie," het een vrou stilweg aan haar metgesel opgemerk.

Binne die begraafplaas is die omvang van die verwaarlosing dadelik sigbaar. Die verlate en vervalle huis in die middel van die begraafplaas het 'n tydelike kuierplek geword -  besaai met leë bierbottels, sigaretstompies en weggooi-rolpapierbokse wat algemeen met daggagebruik verbind word. 'n Verslete houttafel staan ​​in die middel van die vervalle struktuur en dien skynbaar as die groep se vergaderplek.

Rondom die huis skilder die toestand van die begraafplaas  'n ewe ontstellende prentjie. Gras het in sommige dele so hoog gegroei, dat grafte skaars sigbaar is en ‘n gevaarlike en verwaarloosde omgewing skep wat maande laas enige onderhoud gesien het. Inwoners wat met NMH gepraat het, sê die begraafplaas is eens gemonitor en bestuur, met 'n wag op die perseel geplaas is en toegang meer beperk het.  Nou, sê hulle, het die afwesigheid van sekuriteit die hekke vir enigiemand oopgegooi. 

“Daar was voorheen 'n wag en besoeke is meer beheer. Nou kan enigiemand ingaan en doen wat hulle wil, dit is geweldig oneerbiedig,” het ‘n inwoner gesê. Sommige erken hulle konfronteer nie meer diegene wat die begraafplaas misbruik nie. 

“Wanneer jy met hulle probeer praat, word jy beledig of geïgnoreer. Mense het eenvoudig opgehou om enigiets te sê,” verduidelik nog ‘n inwoner. Soos die dag in nag verander, duur die misbruik voort. 

Inwoners sê sodra werkers huiswaarts keer, volg die volgende golf ‘besoekers’ aan die begraafplaas vir hul gebruiklike rooksessie vir die aand. 

Die ‘besoeke’ het wyd kommer onder inwoners laat ontstaan oor dwelmmisbruik onder jongmense, openbare veiligheid en die skynbare wegkalwe van respek vir heilige ruimtes. Die geweldige agteruitgang van die begraafplaas laat inwoners ook wonder oor die munisipaliteit se toesig. In reaksie hierop sê Okahandja se munisipale woordvoerder Meester Penna, die begraafplaas word net een keer per jaar en gewoonlik na die reënseisoen in Julie of Augustus skoongemaak. Penna erken ook die begraafplaas het nie meer plek vir nuwe grafte nie. 

Volgens hom was daar vroeër ‘n hekstelsel in plek wat toegang beperk het en gesinne toegelaat het om net die hek oop te maak wanneer hulle geliefdes se grafte besoek. 

Oorweging sal volgens hom egter geskenk word aan kommer deur inwoners oor kwessies by die verwaarloosde laaste rusplek van geliefdes. Die munisipaliteit se maandelikse tariewe sluit in dienste vir die begraafplaas en wat insluit die bespreking en heropening van grafte, onderhoud en begrafniskoste. Dié munisipale tariewe het met 5% in die 2025’ - ‘26-boekjaar gestyg. 

Dit gaan oor soveel meer as heuphoogte gras en vervalle struktuur, sê inwoners. Dis ‘n teken van die breër verval van die samelewing wanneer ‘n plek wat veronderstel is om die dooies te huldig, nou deur jongmense gebruik word vir alkohol- en dwelmmisbruik, maan hulle. 

Tensy dringende stappe gedoen word, vrees inwoners dat die Okahandja-begraafplaas nie net sy waardigheid sal verloor nie, maar ook sy doel. - [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-07-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer