Aroab se dorpsraad kon in die 2023-u002724-boekjaar geen gedienste erwe aan die gemeenskap lewer nie. FOTO ARGIEFrnrnfoto bygedrarn
Aroab se dorpsraad kon in die 2023-u002724-boekjaar geen gedienste erwe aan die gemeenskap lewer nie. FOTO ARGIEFrnrnfoto bygedrarn

Dorpsraad dop dienstoets

Geen gedienste erwe
Die gebrek aan ontwikkelde en gedienste erwe op Aroab het daartoe gelei dat die dorpsraad se inkomste laer as die begrote bedrag was.
Aurelia Afrikaner
// MK testing tag

Geen ontwikkelde of gedienste erwe was in die 2023-’24-boekjaar vir inwoners op Aroab beskikbaar om te koop nie. 

Volgens die ouditeur-generaal se jongste verslag het die dorpsraad ook ernstige finansiële en administratiewe tekortkominge ervaar. 

Volgens die verslag het die gebrek aan ontwikkelde erwe veroorsaak dat die dorpsraad se inkomste uit diensgelde 12% laer was as die begrote bedrag vir die boekjaar wat op 30 Junie 2024 geëindig het.

Die gebrek aan ontwikkelde erwe het verder beteken die raad kon nie die verwagte inkomste uit grondverkope insamel nie. Dit het die uitdagings onthul waarmee die plaaslike owerheid te kampe het om grond aan sy inwoners beskikbaar te stel. 

Die ouditeur-generaal het ’n ongunstige ouditmening vir die finansiële state vir die betrokke boekjaar uitgereik en gesê dit is nie ’n wesenlike weergawe van die raad se finansiële posisie en prestasie in ooreenstemming met internasionale rekeningkundige standaarde vir die openbare sektor nie. 

Die verslag verwys onder meer na die raad se onvermoë om voldoende en toepaslike ouditbewyse te verskaf om die volledigheid en akkuraatheid van gerapporteerde syfers te bevestig.

Die oudit het ook bevind inkomste uit diensgelde kon nie ten opsigte van akkuraatheid, volledigheid, klassifikasie en werklike voorkoms geverifieer word nie. Dit was omdat bedrae wat in die grootboek aangeteken is, nie na stawende brondokumente herlei kon word nie. 

Die raad het in die betrokke boekjaar ook nie oor ’n interne ouditfunksie, strategiese plan of jaarlikse bedryfsplan beskik nie. Die dorpsraad het ook geen beleid vir risikobestuur, ’n plan vir die herstel ná ’n ramp, die voortsetting van sake of goedgekeurde finansiële beleide nie. Volgens die verslag staan hierdie tekortkominge in teenstelling met die dorpsraad se verklaarde doelwit om dienste te lewer aan die gemeenskap wat hy dien. 

Die raad het in 2024 ’n totale inkomste van sowat N$12,9 miljoen aangeteken, terwyl uitgawes sowat N$16,7 miljoen beloop het. Dit het tot ’n tekort van ongeveer N$3,7 miljoen gelei. Die raad se huidige laste het van ongeveer N$3,8 miljoen in 2023 tot N$7,3 miljoen in 2024 gestyg.

Die oudit het ook ’n bedrag van N$769 608 geïdentifiseer wat van die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling vir die hoëmaslig-projek ontvang is. Dié bedrag is in die bankstaat weerspieël, maar is nóg in die grootboek aangeteken nóg in die jaarlikse finansiële state bekend gemaak.

Die ouditverslag verwys ook na kommer oor die dorpsraad se Build Together-leningskema. Goedkeuringsvorms vir die magtiging van betalings is slegs deur die opsteller van die dokument onderteken, sonder enige bewys van onafhanklike evaluering of goedkeuring van die uitvoerende hoof.

Die raad het ook nie ’n register vir die beweging van vee bygehou nie. Dit het dit vir ouditeure onmoontlik gemaak om die volledigheid en akkuraatheid van biologiese bates te verifieer wat in die finansiële state gerapporteer is. Volgens die verslag het die raad voorsiening gemaak vir twyfelagtige skuld wat vir meer as 120 dae uitstaande was, ten bedrae van ongeveer N$11,2 miljoen in 2024.

Dit ten spyte van die feit dat die dorpsraad nie ’n goedgekeurde handels- en debiteurebeleid gehad het nie.

Die bevindinge skets ’n prentjie van ’n plaaslike owerheid wat onder druk verkeer om dienste te verskaf en te bestuur, terwyl hy terselfdetyd worstel met tekortkominge in finansiële beheermaatreëls, beplanning, die invordering van inkomste en rekordhouding. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer