Die soektog na Foedji
Beleef een van Japan se bekendste vuurfeeste
Yoshida no Himatsuri word al vir die laaste 400 jaar gevier. Die fees dien as verheerliking van die gode van Berg Foedji.
Dit voel of ek net my oë toegemaak het, toe Karel aan my ruk.
“Kom! Ons is hier.”
Deur die slaap, in ’n warboel, gryp ek my goed en so klim ons by die Fujiyoshida-treinstasie af.
Fujiyoshida is ’n dorp wat teen die voet van Berg Foedji geleë is bo-op lawaplate vanuit die jaar van oer. Foedji is ’n vulkaan. Alhoewel Foedji sedert 1707 dormant is, ag geoloë dit steeds as ’n aktiewe vulkaan omdat dit 15 uitbarstings sedert die jaar 781CE gehad het. Dit dui op moontlike toekomstige aktiwiteit en dus hou die Japanners dit fyn dop.
Woudagtige heuwels verwelkom ons in die Foedji-hooglande. Daar is min mense, amper ’n klein-dorpie-gevoel.
Ons pak vinnig by ons blyplek uit toe ek besef my boek het in die trein agtergebly. Teleurstelling val soos ’n dekmantel oor my. Dit was regtig ’n interessante, “cool” boek oor die geskiedenis van die Samoerai. Karel stel voor ons stap die kort entjie terug stasie toe om te kyk of ons dit kan opspoor. Met min hoop, stem ek in.
Die stasiemeester maak ’n oproep en sê die boek is by die volgende stasie so 5 minute weg. Ons kan die boek daar gaan optel deur die volgende trein te neem. Ons klim by Kawaguchiko af. En, daar is my boek!
Kawaguchiko is een van die vyf mere rondom Foedji en ons besluit om ’n rukkie daar te vertoef. Toe dit begin reën, skuil ons in ’n winkeltjie vanwaar Foedji glo goed sigbaar is, maar sedert ons aankoms was die berg nog nie te sien nie. Dit bly bewolk! Ek sê vir Karel dit sal nogal ’n gatslag wees as ons haar glad nie tydens ons besoek sien nie.
Ons sien daar is roetes rondom die meer wat ’n mens kan stap of fietsry. Dit is op die agenda vir die volgende dag. Die soektog na die boek het toe nuwe geleenthede opgelewer. Dalk sien ons die berg.
Terug by Fujiyoshida, bedink ons wat om te eet. Basashi is baie gewild in hierdie deel van Japan. Dit is sushi en sashimi wat met rou perdevleis gemaak word. Ek is ’n avontuurlustige eter en het al perdevleis geëet, maar het nie nou energie vir die “beproef-alles”-filosofie nie. So, kom ons vermy die sushi-eetplekke hier.
Terwyl ons deur die strate van die dorp loop, op soek na ’n eetplek, sien ons een helfte van Foedji se silhoeët.
“Foedji is ’n tease. Sy wys net so bietjie lyf op ’n slag.” merk Karel op.
Die berg gedra haar werklik soos ’n ontkleedanseres wat die gehoor met opgewondenheid en afwagting boei.
’n Klein eetplekkie teen die voet van ’n heuwel trek ons aandag. Die gasvrou is baie vriendelik en dui ons sitplek aan. Soos in baie plekke in die Japannese platteland, moet ons op die vloer sit en eet. Dit is gemaklik. Ons drink Highballs (whisky en sodawater in groot bierglase – baie gewild in Japan) en bestel Udon-noedels en groente-tempura te ete. Die hele maal is lekker en verfrissend.
Vroeg die volgende oggend stap ons stasie toe om die trein na Kawaguchiko te neem. Onderweg begin ’n ouer Australiese paartjie met ons gesels. Janine, die vrou, het lank in Japan gewoon. Hulle vertel dat vandag ’n feestelike dag is. Vanaand is Yoshida no Himatsuri, een van Japan se bekendste vuurfeeste. Weens hulle oortuiging, besluit ons om die staproete te verkort en vroeër terug te kom. Vanaand vier ons fees!
Kawaguchiko is besonders mooi. Die meer word omring deur groen gebergtes, veldblomme, insekte en hier en daar ’n skuitjie. Die superster van die omgewing is natuurlik Foedji wat skitter in haar afwesigheid. So dan en wan wys sy effens been deur haar kleed van wolke.
Ons verken die omgewing deur om die meer te stap. Dit is bloedig warm, maar die natuurskoon en yskoffies uit “vending”-masjiene verkwik die liggaam en siel! Kort-kort staar ons na die wolke wat vir Foedji sluier. Ons het baie ver gekom vir wolke!
Laat namiddag is ons op pad na die vuurfees. Ons is nie honderd persent seker waar die fees is nie, so ons volg die troppe mense. Mense, mense en nogmaals mense. Dit is opwindend!
Yoshida no Himatsuri word al vir die laaste 400 jaar gevier. Die fees dien as verheerliking van die gode van Berg Foedji. Die rituele vra ook om beskerming van die vulkaan; dat die jaar wat voorlê voorspoedig mag wees sonder katastrofiese uitbarstings.
In die straat waar die vieringe plaasvind, is drie meter hoë fakkels en brandstapels hout op die grond so ver soos wat die oog kan sien.
“Wie gaan dit aansteek en hoe veilig is hierdie affêre?” wonder ek.
Weerskante van die straat is daar kosstalletjies. Drinkgoed soos Highballs en bier is gewild onder die skare.
Terwyl ons in die straat stap, hoor ons die donderweer van ritmiese dromme. ’n Atmosfeer van eerbied begin heers. Tussen die slae van dromme, hoor ons krete en klokke in die verte. Dit is asof Foedji reageer op die aanvang van die ritueel: Vir die eerste keer in twee dae trek die wolke voor die vulkaan oop. Majestueus toring die groot blou silhoeët bo die skare en fakkels uit.
Die krete en klokke kom al hoe nader. Dit is Shinto-priesters en -monnike wat in die straat afkom: Die aansteek van elke fakkel en brandstapel gaan gepaard met ’n gebed. Binne minute is die hele straat vol vlam en vuur. Die dromme speel steeds.
Die dromme word deur oud en jonk bespeel. Dit is Taiko-dromme wat vervleg is met die Japannese geskiedenis en kultuur. Nie net word dit gedurende Shinto-rituele gespeel nie, maar dit was ook gebruik in Samoerai-krygskrete. Daar lê werklik mag in die ritmes van die Taiko-dromme, ’n ware opsweping!
Nadat ons vir ’n goeie halfuur na die Taiko-dromme gestaan en luister het, stap ons deur die vure in die straat op soek na kos. Ons stop by twee innemende jongmense wat noedels verkoop. Ná al die stap en opwinding is dit werklik manna.
Daar is geen veiligheidsmaatreëls in plek nie. Die orde van die Japanners laat hulle met gemak tussen die stapels vuur sonder hindernis loop.
Ek en Karel begin die gloed van die vuur in ons nekke en gesigte voel. Daar val as en vonkies in my kraag. Dit brand! Dit lyk nie of dit die plaaslike mense pla nie.
Voor ons beide aan die brandslaan, besluit ons om na ons blyplek te gaan. My klere ruik na rook. Ná ’n lang bad, klim ek dankbaar in die bed. Dankbaar dat ek tog vir Foedji in haar majesteit en misterie kon beleef. Ek hoop sy het die Japanners se gebede gehoor en slaap nog ’n jaar in vrede. Diep en dormant.– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie