Diamantreus op pad

N$1,1 miljard-belegging dalk binne 31 maande verhaal
Augetto Graig
Debmarine Namibia het N$1,1 miljard belê in die hipermo­derne diamant-herwinnings­toerusting wat vandeesweek in die Kaapstad-hawe in die buurland aan die wêreld onthul is.



Die uitvoerende hoof van Deb­marine, Willy Mertens, het Maandag tydens die geleentheid gesê die twee nuwe onderwater-herwinningstoerusting (crawlers) wat teen die einde van vandeesmaand in Namibiese waters aan boord van die vlagskip Benguela Gem ontplooi sal word, sal na verwagting ’n toename in produksie van tot 20% lewer. Dit is gelykstaande aan ongeveer 80 000 karaat, ofte wel die gekombineerde produksie van die skepe Grand Banks en Coral Sea wat uit die Debmarine-vloot onttrek word. Die belegging van N$1,1 miljard sal na verwagting binne 31 maande teen dié produksiekoers verhaal kan word.



Die unieke tegnologie behels 370 ton hoëtegnologie-staal elk wat op die seebodem sal rondbeweeg en tot ’n halwe meter diep sal suig om die diamante aan boord te herwin en die oortollige gruis in die Atlantiese Oseaan terug te stort.



Ná meer as 20 jaar, sedert die eerste weergawe in 2003, bied die jongste weergawe van hierdie tegnologie meer krag (3,4 MW), groter pompkapasiteit en ’n 20 m-swaaiboog danksy voort­durende ontwikkeling.



Die nuwe tegnologie, wat intern en in samewerking met Upstream Technology ontwikkel is, kan bydra tot ’n betekenisvolle uitbreiding van De Beers en die Namibiese regering se 50/50-­vennootskap in Debmarine, volgens Kevin Smith, die voorsitter van die Debmarine-raad van direkteure en ook die uitvoerende vise­president van korporatiewe sake en strategie vir die De Beers-groep.



“Dit is die toekoms,” het Smith die betekenis van die nuwe toerusting vir Debmarine Namibia beskryf.



“Dis baie meer doeltreffend en hierdie belegging van meer as ’n miljard ­Namibiese dollar gee ons ’n toekoms ver verby 2030, 2040, vir hierdie besigheid,” sê hy.



By dieselfde geleentheid het die raad se visevoorsitter, Shakwa Nyambe, gesê dis ’n groot belegging vir Debmarine Namibia en ’n trapleer na die ­ontwikkeling van nuwe tegnologie in die toekoms om diamante uit ­moeiliker terrein binne die Atlantic 1-mynlisensiegebied te kan ontgin.



In die lig van voortgesette onderhandelinge oor die ooreenkoms tussen De Beers en die Namibiese regering, sê Smith die vennootskap wat sedert 1994 bestaan, is steeds sterk.



“Dit is so belangrik dat ons hand aan hand werk,” sê hy en voeg by dat dit ’n sterk fondasie is vir die toekoms wat hulle in gedagte het.



Die onderhandelinge moet teen 16 Mei 2026 voltooi wees, wanneer die huidige ooreenkoms verstryk.



Wat die huidige uitdagings betref in die lig van die natuurlike diamantmark wat ly onder verminderde aanvraag en laer pryse, sê Smith: “Ons vertroue in die toekoms van die natuurlike diamantmark is onwrikbaar.”



Volgens hom is mariene diamante uit Namibië die helderste en steeds gewild onder mense.



Nyambe het ook gesê ander Nami­biese maatskappye kan lesse oor ­volhoubaarheid en vernuwing by ­Debmarine leer.



“Ons het baie in ons tegnologie belê, ons het baie in ons mense belê,” sê hy.



Volgens hom sal tegnologie, vernuwing, volhoubaarheid en om na werknemers om te sien, Debmarine in staat stel om selfs groter dinge te kan bereik.



“Ander maatskappye kan ons volg en dieselfde as ons doen,” sê Nyambe.



[email protected] hier: q.my.na/8W3O

Kommentaar

Republikein 2025-10-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer