Daar’s perde by die Altersheim

-
-
Henriette Lamprecht

Vergeet van die gesogte en flambojante Durban July in Suid-Afrika, op plaaslike bodem was ’n baie spesiale perderesies met bejaarde “joggie” eerder die groot wenner! 

As daar een plek is waar dinge altyd roer en gebeur, is dit die Otjiwarongo Altersheim (ouetehuis) waar ’n July Derby onlangs vir sy geliefde inwoners gehou is. Deelnemers kon hul eie kartonperd maak of een by die ouetehuis koop en teen ’n fooi vir die resies inskryf. Deel van die dag van perdepret was ook ’n ligte middagete en deftige oggendtee waarvoor kaartjies gekoop kon word om geld vir die Altersheim in te samel. 

In die sorgeenheid se resies met koerantpapier was ouma Breggie Blom eerste oor die eindstreep, gevolg deur ouma Adrie Badenhorst en oupa Wessel van Niekerk wat elkeen geskenkies geborg deur Nambob ontvang het. 

Vir die eenheid se resies met toiletrolle was oom Dirk Bosman die wenjoggie, met ouma Breggie Blom en ouma Adrie Badenhorst onderskeidelik in tweede en derde plek. Hulle ontvang ook geskenkies geborg deur Nambob. 

In die groot “derby” met dobbelstene was Vicky Hue die wenner wat wegstap met ’n geskenkbewys van Hotel Thule vir ’n naweek vir twee. Paul Human in die tweede plek kry N$2 000 kontant geborg deur Eldorado Lodge & Camping, terwyl Naomi Smit danksy Otji Bricks met N$1 500 in kontant in die derde plek wegstap. – [email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-08-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer