The City of Windhoek has introduced parking marshals for the CBD.
The City of Windhoek has introduced parking marshals for the CBD.

CoW stel parkeerbeamptes aan

Minder opeenhopings
Parkeerbeamptes sal eersdaags 'n ogie oor parkering in die middestad van Windhoek hou.
Iréne-Mari van der Walt
Die Windhoek-munisipaliteit (CoW) het die bekendstelling van parkeerbeamptes aangekondig om parkeeropeenhopings in die middestad te verlig.

“Die realiteit is dat grond binne hierdie gebied skaars is en teen ’n hoë premie kom,” het die munisipaliteit in ’n mediaverklaring gesê.

“Die verskaffing van parkering is dus uiters duur en die bestuur hiervan moet toegepas word om die doeltreffende gebruik van beperkte parkering te verseker.

“Die primêre doelwit van parkeerplek op straat is dus om langtermynparkering te ontmoedig en [dus] moet gepaste tariewe toegepas word om dié doel te bereik.”

Behalwe dat meer mense in die sakegebied kan parkeer, het die CoW gesê statistiek het getoon dat die implementering van ’n amptelike parkeerstelsel kriminele aktiwiteite op straat verminder.

“Parkeerbeamptes, wat met radio’s toegerus sal wees, kan enige vermoedelike kriminele gedrag by die parkeeroperateur se kantoor en wetstoepassers se beheerkamers aanmeld. Met die verloop van tyd word misdadigers bewus van die verhouding tussen die parkeeroperateur en plaaslike wetstoepassers, wat kleiner misdade op straat tot byna nul verminder. Vorige informele motorwagte kry voorkeur om as parkeerbeamptes aangestel te word.”

Aangesien die vraag na parkering in die sakegebied verskil, is verskeie parkeerareas volgens aanvraag in sones geklassifiseer.

SONES EN TARIEWE

Tariefborde word in parkeersones vertoon, wat die parkeertariewe vir daardie spesifieke sone aandui.

Die tarief om vir 0 tot 60 minute of ’n gedeelte daarvan op straat te parkeer is soos volg:

SONE A – Fidel Castro-, Werner List-, John Meinert- en Judge JP Karuaihestraat: N$8 per uur.

SONE B – Sam Nujoma-rylaan, Talstraat, Mandume Ndemufayolaan, Prof Mburumba Kerinastraat en Robert Mugabelaan: N$5

SONE C – Julius Nyererestraat, Jan Jonkerweg, Dr Agostinho Netoweg, Rehobotherweg, Talstraat, Sam Nujoma-rylaan en Robert Mugabelaan: N$3.

HOE WERK DIE STELSEL?

Die parkeerbeamptes sal KeyPlot Investments (KPI)-uniforms en -naamplaatjies dra en sal duidelik identifiseerbaar wees.

Die beampte sal ’n kwitansie vir elke transaksie uitreik, wat die unieke parkeernommer, die tarief wat van toepassing is, asook die registrasienommer van die voertuig weerspieël. Betaling moet vooruit geskied. Geen betaling mag verwerk word sonder dat ’n kwitansie ontvang is nie. Indien die beampte nie ’n kwitansie kan verskaf nie, sal sodanige parkering gratis wees.

Die kwitansie moet op die paneelbord van die voertuig vertoon word. ’n Faktuur word uitgereik en op die voorruit gesit, sou die bestuurder sy voertuig verlaat het voordat die betaling verwerk is.

Parkeerbeamptes het nie die gesag om parkeerboetes uit te reik nie, maar kan die stadspolisie van oortredings inlig om verkeersregulasies af te dwing.

DOELTREFFENDE BESTUUR

Die CoW het gesê deur doeltreffende bestuurspraktyke toe te pas, kan die 1 250 straatparkerings in die sakegebied voorsiening maak vir ongeveer 9 000 voertuie wat die gebied gedurende spitstye besoek, wat nie moontlik sou wees as voertuie vir lang tye of die hele dag ’n parkeerplek sou beset nie.

“’n Goeie parkeerbestuurstelsel sal verseker dat parkeerplekke beskikbaar is om verskeie kere per dag gebruik te word, wat op sy beurt meer mense sal aanmoedig om vir sakedoeleindes in die sakegebied in te kom, en sodoende die potensiaal van groeiende ekonomiese aktiwiteite moontlik maak.”

Terwyl parkeerbestuur nie nuut in die hoofstad is nie, het die vorige parkeermeterstelsel verouderd geraak en is met die huidige stelsel vervang.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer