Cheslin maak Okahandja trots

Speler, en nou skeidsregter
Aurelia Afrikaner
Aurelia Afrikaner



Okahandja mag dalk ’n dorp met sy eie uitdagings wees, maar dis ook ’n plek wat uit sy nate bars van talent.



Cheslin van Wyk, speler, afrigter, mentor en nou trotse MTC Premierliga-skeidsregter, staan aan die voorpunt van leiding en inspirasie en wel op die netbalbaan!



Cheslin is gebore en getoë in Okahandja en sy reis met sport en netbal begin in 2017 toe hy saam met sy vriende Ambrosius Eichab, Ronneky Basson en Moses de Klerk by ’n plaas­like sosiale span aangesluit het. Wat veronderstel was om net ’n prettige naweekaktiwiteit te wees, het vinnig in iets groter verander.



“Ek het gedink dis net sosiale netbal,” vertel hy met ’n glimlag.



“Toe ek my oë uitvee, hardloop ek rond as ’n ­aanvallende vleuel en doelverdediger asof my lewe daarvan afhang! Ek het toe besef ek is verslaaf.”



Sedert daardie vroeë dae op die Okahandja-netbalbane het Cheslin se passie vir die sport net aangehou groei. Om vir die Afrocate Lions mans-netbalklub te speel, het hom die honger na mededinging en die vreugde van spanwerk gegee, vertel hy.



Plaaslike toernooie en wedstryde van die ­Namibiese weermag (NDF) het hom gebrei in ’n sterk, maar regverdige mededinger wat wyd respekteer word vir sy ratsheid en sportmanskap.



Cheslin se bydrae tot die sport stop egter nie net by netbal speel nie. Hy rig ook af en doen opheffingswerk onder die jongmense op die dorp sedert 2017, ’n voorbeeld dat sport ’n kragtige instrument vir groei op ’n dorp kan wees.



“Okahandja het sy probleme,” erken hy, “maar die dorp het ook ongelooflike talent. Al wat dit nodig het, is die geleentheid en ek wil deel wees om daardie deur oop te maak.”



Hierdie dryfkrag het hom gelei tot waar hy tans ’n skeidsregter vir die sportkode is. Omdat Cheslin wou hê dat spelers die sport beter moes verstaan, het hy as ­skeidsregter gekwalifiseer en blaas hy nou regverdig en met integriteit.



“En af en toe hard genoeg dat die hele buurt sommer wakker skrik!” skerts hy.



“Aanvanklik het mense gekreun toe ek die fluitjie geblaas het,” lag hy.



“Maar toe hulle eers besef ek het dit nie net opgemaak nie, het hulle die besluit ­gerespekteer.”



Vandag vier Okahandja vir Cheslin nie net as ’n atleet nie, maar as ’n rolmodel wat bewys dat selfs uit plattelandse dorpe groot drome bewaarheid kan word en vlerke kan kry.



“My doel is om die internasionale verhoog te bereik,” sê hy trots.



“En om vir elke jongmens in Okahandja te wys dat, ongeag waar jy vandaan kom, jou talent jou na enige plek kan vat.”



Met hart, humor en ’n ­fluitjie in die hand, is Cheslin die bewys dat uit Okahandja se stowwerige strate, inwoners groot hoogtes kan bereik.



[email protected]



Kommentaar

Republikein 2025-09-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer