Byna 800 000 ha in Etosha Nasionale Park afgebrand

Te min, te laat
Sowat 34% van die vlagskippark van Namibië is in ses dae deur vlamme verswelg en meer as 171 000 hektaar buite die park.
Francoise Steynberg
Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme (MEFT) het bevestig die verwoestende veldbrand in die Etosha Nasionale Park het ’n geraamde 775 163 hektaar, ongeveer 34 persent van die park, in ses dae afgebrand.

“Buite die park is 171 098 hektaar grond geraak, insluitend 156 315 hektaar noord van die park in die streke van Omusati en Oshana en 14 783 hektaar suid,” lui die verklaring van MEFT.

Die brand wat verlede Maandagaand op die hervestigingsplaas Helaas vermoedelik weens houtskoolbrand ontstaan het, het sedertdien versprei na die westelike, sentrale en suidelike dele van die park.

“Die gebiede wat die ergste geraak word, sluit in Dolomiet (noord en suid), Okatutu, Renostervlei, Jakkalswater, Halali en die gebied tussen Olifantsbad en Halali. Die brand het ook buite die park noordwaarts versprei na gebiede in die streke van Omusati en Oshana na die nedersettings van Omutambo-gomawe, Okambango, Okerine, Onghunya, Osagalwa, Omalika en Ovenduka.”

Volgens die omgewingsminister, Indileni Daniel, is ten minste nege dooie wildsbokke in die brandgeteisterde gebiede gesien, terwyl ’n ietermago suksesvol gered is.

Intussen het die kantoor van die eerste minister gesê die ministerie van verdediging en veteranesake het Saterdag twee helikopters van die Namibiese weermag (NDF) gestuur en ’n bykomende 49 soldate ontplooi met 500 soldate wat gister by die vlagskippark sou aankom.

Daniel sê sowat 60 MEFT-personeel en meer as 20 naburige boere en gemeenskapslede is tans op die grond.

‘KOPPE MOET ROL’

Dit volg nadat boere in die omgewing Vrydag amptelike toestemmingsbriewe gekry het om die park in te gaan om die brand te help blus. Intussen is sterk kritiek uitgespreek oor koppe wat moet rol omdat te min, te laat deur parkowerhede gedoen is om die verspreiding van die brand te voorkom.

“Bosbouspanne van Outapi, Tsandi, Engombe en Ongwediva is ontplooi, saam met NDF-lede van Oshakati en streekraadspanne. Gemeenskapslede is aktief betrokke in Okakango, Amarika, Ovenduka en Onkani,” sê die minister.

Wat versterkings betref is volgens Daniel vanaf Saterdag ’n watertenk en twee NDF-helikopters ontplooi om brandbestrydingsoperasies verder te versterk.

“Tans is twee brandweertrokke, ses brandweerwaens, vyf brandblasers, twee Land Cruisers met watertenks en een watertrok van die Oshanastreekraad in gebruik.

“Die ministerie waardeer die bydraes van die private sektor opreg, wat beide mannekrag en brandbestrydingstoerusting verskaf het om operasies binne die Etosha Nasionale Park te ondersteun. Hul tydige hulp was deurslaggewend in die versterking van die inperkingspogings,” het Daniel gesê.

“Sterk winde en droë plantegroei veroorsaak dat die brand vinnig versprei. Die veldbrandkrisis in die Etosha Nasionale Park en omliggende gebiede hou ’n beduidende bedreiging vir Namibië se biodiversiteit, plaaslike lewensbestaan ​​en kritieke infrastruktuur in. MEFT, saam met alle vennote, bly daartoe verbind om die impak van hierdie brande te verminder.”

Die ministerie waarsku alle toeriste, besoekers en gemeenskappe in of naby geraakte gebiede om uiters versigtig te wees. Individue word versoek om nie na gebiede te ry of te probeer oorsteek waar veldbrande aktief is nie.

“Brande versprei vinnig en kan skielik van rigting verander as gevolg van sterk winde, wat lewens in ernstige gevaar stel. Almal word dus aangeraai om instruksies van parkowerhede, wetstoepassing en brandbestrydingspanne te volg,” maan die minister.

Die ministerie sê dit sal voortgaan om opdaterings te verskaf soos die situasie ontwikkel en maan dat die publiek waaksaam moet bly, verantwoordelike vuurgebruik beoefen en saam met brandbestrydingspanne in die betrokke gebiede werk.

Lees ook die artikel op bladsy 3 oor die Houtskoolvereniging van Namibië (CAoN) se mening oor die brand.

[email protected] op die skakel https://q.my.na/L3VX.

Kommentaar

Republikein 2025-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer