Boulter se verhoor tot Julie uitgestel

Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

Die Britse miljardêr en moordbeskuldigde, mnr. Harvey Boulter (52), se voorverhoor is gister in die hoërhof in Windhoek uitgestel.

Die saak teen hom spruit uit ’n voorval op 27 Februarie verlede jaar toe mnr. Gerhard van Wyk, sy plaasbestuurder, in die maag geskiet is tydens ’n geselligheid op Boulter se plaas naby Kamanjab.

Boulter se prokureur, mnr. Sisa Namandje, het aangevoer die voorverhoor moet tot Augustus uitgestel word. Die staat het na bewering versuim om afskrifte van die polisieklagstaat en ander verwante dokumentasie voor die dag van sy verskyning aan Boulter se regspan te verskaf.

Regter Hosea Angula het egter beslis die saak sal op 21 Julie hervat. Boulter se borgtog is verleng en sy borgtogvoorwaardes bly ­onveranderd.

Die hoërhof het verlede jaar borgtog van N$500 000 aan Boulter toegestaan nadat ’n aansoek om borgtog nie in die landdroshof op Outjo geslaag het nie.

Boulter staan tereg op ’n klag van moord, die onwettige besit van ’n vuurwapen en regsverydeling.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer