Bondelswarts-leierskap vandag in die hof

Besoek van adjunkpresident stook onmin
Die tradisionele raad en koningshuis is in ’n hoofmantwis.
Augetto Graig

Regter Shafimana Ueitele sal in ’n statusverhoor in die hoërhof in Windhoek die hofgeskil rakende die koninklike leierskap van die Bondelswarts in Namibië lei.

Prokureur en lid van die koninklike Christiaan-familie, Franciskus Witbooi, het reeds in 2024 die aansoek gebring om die hof te vra vir klaring oor die hoofmanskap van die Bondelswarts Tradisionele Owerheid.

Die kwessie het onlangs met die besoek van adjunkpresident Lucia Witbooi aan Karasburg in die ||Kharasstreek op 19 Maart, in aanloop tot vanjaar se Onafhanklikheidsvieringe, weer onsteltenis veroorsaak.

Teen 21 Maart het die Bondelswarts Erfenisstiging reeds aan president Netumbo Nandi Ndaitwah geskryf om hul misnoeë uit te spreek oor die adjunkpresident se optrede in verband met die langdurige leierskapgeskil in die gemeenskap.

Die stigter van die stigting, Mathew Veldskoen, maak kapsie teen Witbooi se vergadering met net “’n spesifieke faksie binne die Bondelswarts-gemeenskap,” asook ’n verwysing op sosiale media van Denzyl Christiaan as waarnemende hoofman van die Bondelswarts Tradisionele Owerheid.

“Die kantoor van die adjunkpresident dra geweldige gesag en invloed. Wanneer daardie kantoor blykbaar selektief met een faksie tydens ’n bekende opvolgingsgeskil skakel, loop dit die risiko om die opvatting te skep dat die regering reeds kant gekies het in ’n interne saak wat noukeurige neutraliteit en versoening vereis,” skryf Veldskoen.

Hy het ook skriftelik ’n klag by ombudsman Basilius Dyakugha aangemeld, waarin wanadministrasie, die misbruik van ’n amp en die versuim om die Wet op Tradisionele Owerhede No. 25 van 2000 na te kom, beweer word.

Op navraag het die adjunkpresident se kantoor geantwoord: “Die adjunkpresident het dit gepas geag om ’n hoflikheidsbesoek aan die Bondelswarts Tradisionele Owerheid te bring, wat ’n erkende tradisionele owerheid in daardie spesifieke kiesafdeling is waar die vieringe plaasgevind het en wat tans onder leiding van senior raadslid Hans Jossop is.”

Jossop word deur die regering as raadslid – saam met Johannes Stephanus April – van die owerheid erken en die adjunkpresident se kantoor het ook die teenwoordigheid van Christaan by die vergadering bevestig.

“Geeneen van die deelnemers aan hierdie vergadering is deur raadslid Hans Jossop of raadslid April as lede van die koningshuis voorgestel nie, dus het die adjunkpresident en haar afvaardiging nie onderskei wie watter deel van die Bondelswarts Tradisionele Owerheid verteenwoordig het nie,” het die adjunkpresident se kantoor bygevoeg.

Haar kantoor het wel bevestig dat Christaan, tot dusver, nie deur die regering as hoofman van die Bondelswarts erken is nie, alhoewel verdere vrae aan die goerwerneur van die ||Kharasstreek en die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling verwys is.

Franciskus Witbooi sê hy verwag dat Ueitele in sy guns sal bevind, dat Christaan nie van die koninklike Christiaan-bloedlyn afstam nie, dat hy nie volgens die Bondelswarts-gewoontereg of die wet op tradisionele owerhede aangestel is nie en Christiaan se inhuldiging op 24 Julie 2024 van die hand gewys sal word.

In sy beëdigde verklaring benadruk Jossop dat alle prosedure vir die nominasie van Christiaan volledig gevolg was, dat hy die regmatige leier van die tradisionele owerheid is en dat die hof se beslissing ligsinnige pogings tot teenstand sal beëindig.

“Ons is op die 14de in die hoërhof oor daardie saak. Ons sal in die hof sien,” het Jossop op Republikein se navraag reageer.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer