Bipa skrap kantoortender
Owerheid vir Sake- en Intellektuele Eiendom (Bipa) het sy kantoortender van N$10,3 miljoen gekanselleer nadat 'n onsuksesvolle bieër die toekenning betwis het en beweer het daar was botsende belange met konsultante wat toesig oor die verkryging hou.
Bipa het volgens dokumente Marley Tjitjo Argitekte as konsultante vir die voorgestelde kantoorontwikkeling, insluitend die ontwerp van die nuwe kantore, aangestel.
In 'n brief aan Bipa gedateer 18 Junie het een van die bieërs, Be-Tech Investments, beweer Marley Tjitjo was betrokke by die evaluering van die tenders en het ook vorige transaksies met die suksesvolle bieër, Urban Engineering CC, gehad.
BeTech het ook beweer daar is geknoei met die tenders, terwyl ander onreëlmatighede in die verkryging volgens hulle die integriteit van die tender in die gedrang gebring het.
“Die tenderevalueringskomitee wat die evaluering gedoen het, bestaan uit konsultante van Marley Tjitjo Argitekte,” lui die brief.
“Is die konsultante se aanstellings soos vereis deur die wet in ooreenstemming met Artikel 26 van die wet op openbare verkryging en goedgekeur deur die eenheid vir verkrygingsbeleid (PPU)?.”
Be-Tech het ook gevra of die rekeningkundige beampte bewus was “dat die konsultante wat gebruik word, 'n gevestigde werksverhouding het met een van die vennote van die gesamentlike onderneming van Urban Engineering CC JV Venmart Investment CC wat vir toekenning gekies is, naamlik Urban Engineering CC?”
'n Totaal van 13 maatskappye het tenders vir Bipa se kantoorontwikkelingsprojek ingedien. Dit sluit in Urban Engineering CC JV Venmart Investment CC, Be-Tech Investments CC, NDC Construction CC, Nexus Building Contractor CC, Auget Investment CC, MSH Trading Enterprises CC, Lewcor Construction Namibia (Edms) Bpk, Zebra Investments CC, MVA Fund Construction JV, Dynamic Builders CC, Otesa Civil Engineering (Edms) Bpk, CMC Construction Namibia (Edms) Bpk, en China Jiangxi International Namibia (Edms) Bpk.
“Ons vind dit vreemd dat uit al 13 tenders, slegs Urban Engineering CC deur die BEC as geskik bevind is. Lees asseblief 'n koerantartikel gedateer 22 September 2023 wat praat oor die verhouding tussen Marley Tjitjo Architects en Urban Engineering CC,” het Be-Tech in die brief gesê. Volgens die maatskappy is dit “net een voorbeeld van verskeie ander projekte waaraan hulle saam gewerk het”.
Volgens die artikel in New Era, is die kontrak aan Urban Engineering toegeken om die Namibiese kollege vir afstandsonderrig (Namcol) se streeksentrum op Opuwo te bou. Marley Tjitjo Argitekte is as die projek se argitek aangestel.
Be-Tech het na die projek verwys as ‘n bewys van 'n vorige professionele werksverhouding tussen die twee maatskappye.
SERTIFIKAAT
Be-Tech het Bipa ook daarvan beskuldig dat dit onreëlmatig verklaar het hul bod het nie aan die al die vereistes voldoen nie. Dit omdat hulle na bewering nie ‘n sertifikaat van voldoening van die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) ingedien het nie.
Volgens Be-Tech het die dokument deel van hul bodvoorlegging gevorm. Die maatskappy wou ook weet hoe dit later as deel van die evalueringsproses as vermis aangeteken kon word.
“Ons betwis hierdie bewering en voer aan dat al die verpligte dokumente van Artikel 50 (2) ingedien is. Dit sluit die SSC-sertifkaat in,” het Be-Tech gesê.
“Ons glo daar is met ons boddokument gepeuter - óf deur die verkrygingseenheid wat die bod ontvang en aan die komitee voorgelê het, óf deur die komitee self toe dit die bod vir evaluering ontvang het.
“Ons basis vir hierdie oortuiging sal duidelik gemaak word in die daaropvolgende voorleggings,” het Be-Tech gesê.
Volgens die maatskappy wek die beweerde weglating kommer oor die integriteit van die verkrygingsproses. Dit het Bipa versoek om ondersoek in te stel na wat as moontlike manipulasie beskryf is.
KANSELLEER
Bipa se woordvoerder Romancia Nyandoro het Dinsdag aan Republikein bevestig dat Be-Tech Investments se aansoek om heroorweging gelei het tot die hersiening van die verkrygingsproses.
“Die aansoek om heroorweging wat deur Be-Tech Investments ingedien is, het tot 'n hersiening van die verkrygingsproses in ooreenstemming met die bepalings van die openbare verkrygingswet gelei,” het Nyandoro gesê.
Die gevolgtrekking deur Bipa was dat dit gevolglik nodig was om die tender te kanselleer.
“Na aanleiding van die hersiening het Bipa bepaal dat dit in belang van billikheid, deursigtigheid en nakoming, die beste was om die verkrygingsproses te kanselleer,” het Nyandoro gesê.
Bipa het die besluit op 23 Julie met alle bieërs gedeel. Nyandoro wou nie kommentaar lewer op Be-Tech se bewerings rakende die manipulering van tenders, die beweerde weglating van sy voldoeningsertifikaat van die SSC en bewerings van potensiële belangebotsings nie.
“Bipa lewer geen kommentaar op bewerings, eise of sake wat deel vorm van voortgesette hersienings- of heroorwegingsprosesse nie,” het Nyandoro gesê. Volgens haar beplan Bipa om die tender weer te adverteer. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie