Beter sein vir platteland
Die regulerende Owerheid vir Kommunikasie van Namibië (Cran) het onlangs sy ooreenkoms met Telecom Namibia aangekondig.
Volgens die ooreenkoms sal sowat N$10 miljoen bewillig word vir die installering van netwerktorings vir radiotoegang (RAN) oraloor die platteland.
Vroeg vandeesmaand het Telecom se uitvoerende hoof, Stanley Shanapinda, gesê: “Hierdie ooreenkoms verteenwoordig ’n beduidende stap vorentoe in ons missie om alle Namibiërs te verbind. Deur hierdie fondse in robuuste infrastruktuur te belê, bou ons nie net torings nie; ons skep ’n digitale lewensaar vir landelike gemeenskappe.”
Nadat die staatsbeheerde telekommunikasieonderneming suksesvol daarvoor gebie het, is N$9 796 650 spesifiek vir die ontplooiing van noodsaaklike infrastruktuur vir telekommunikasiedienste oor sleutelgebiede toegeken.
Luidens Telecom se verklaring is dit “om te verseker dat afgeleë gemeenskappe toegang tot betroubare en hoëgehalte-kommunikasiedienste het”.
Die ontplooiing van dié infrastruktuur teiken onderbediende gebiede in streke soos Kavango-Oos en -Wes, Kunene, Ohangwena, Omusati, Oshikoto, Zambezi en ||Kharas.
Die nuwe infrastruktuur het ten doel om stem- en internetverbindings te verbeter, terwyl Telecom ook ingestem het dat onderwys- en gesondheidsgeriewe binne die dekking van die nuwe torings vir die volgende sewe jaar gratis verbind sal wees.
KEURINGSPROSES
Cran se uitvoerende hoof, Emilia Nghikembua, het terselfdertyd gesê: “Die universele diensfonds (USF) is ’n hoeksteen van ons strategie om inklusiewe kommunikasiedienste te verseker. Deur ’n deursigtige en streng keuringsproses het ons met Telecom Namibia saamgewerk om ons digitale infrastruktuurdoelwitte vir 2024-’27 te versnel.”
Deur dieselfde USF het Cran reeds in Februarie ’n soortgelyke, hoewel groter, ooreenkoms met Namibië se voorste selfoondiensverskaffer, MTC, aangegaan.
Die USF wat verlede jaar in Maart deur Cran van stapel gestuur is, is ’n strategiese fonds wat ontwerp is om die digitale gaping in Namibië te oorbrug. Dit bied finansiële steun aan lisensiehouers vir telekommunikasiedienste om infrastruktuur soos torings in landelike en onderbediende gebiede op te rig, met die doel om internet- en stemdienstoegang te verbeter.
Tot op hede is altesaam N$42,1 miljoen toegeken onder Fase 2 van die USF se uitrolprogram. Telecom Namibia en MTC is tot dusver die enigste suksesvolle kontrakbegunstigdes.
“Die kontrak bepaal dat, ná die ondertekening, 70% uitbetaal moet word; altesaam N$29,4 miljoen onder USF se Fase 2.
“Dit sluit N$22,6 miljoen in wat aan MTC toegeken is en N$6,8 miljoen aan Telecom Namibia. ’n Bykomende N$27,8 miljoen is aan MTC onder Fase 1 uitbetaal,” luidens Cran se antwoorde op navrae.
“Die uitstaande saldo’s vir beide entiteite sal betaal word nadat die projek suksesvol voltooi is,” brei Cran uit.
’n Totaal van 12 RAN-torings word in Fase 2 beplan, waarvan Telecom Namibia drie en MTC nege sal oprig. Verlede jaar, ná die stigting van die USF, is nege torings gedurende Fase 1 reeds geïnstalleer.
Volgens Cran sal ongeveer 100 torings oor die volgende vier jaar benodig word om die gaping in konnektiwiteit te takel.
“Ongeveer N$400 miljoen sal nodig wees. Benewens dié terrestriële infrastruktuur, sal ander tegnologieë soos gemeenskapsnetwerke en satelliete in lae aardwentelbane ontplooi word,” sê die owerheid.
Die USF word befonds deur ’n jaarlikse heffing van 0,5% op lisensiehouers van telekommunikasiedienste, sowel as ’n regeringsverbintenis van N$145 miljoen oor ’n tydperk van vier jaar, volgens Cran.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie