Begin met wat jy het
Sy is nie iemand wat glo jy moet ryk, magtig of beroemd wees om ‘n verskil te kan maak nie. Jy begin met wat jy het, sê Kirstie Strydom van Windhoek, Ms Face of Hope Namibia 2026. En wanneer sy hopelik in die toekoms Namibië op ‘n internasionale verhoog gaan verteenwoordig, gaan dit nie bloot as titelhouer wees nie, maar ook as ‘n stem vir verandering.
Kirstie se titel is toegeken deur Miss HOPE Namibia National, 'n platform wat deur Anita Senekal geskep is as iets meer as ‘n tradisionele skoonheidskompetisie.
As eggenote, ma en sakevrou is haar hartsbegeerte om te dien lankal reeds deel van haar hart en nog voor sy ‘n kroon gedra het, sê Kirstie. Deur haar reis met HOPE het sy met verskeie liefdadigheids- en gemeenskapsorganisasies oraloor Namibië gewerk. Kinders in nood, gesinne wat swaar trek en organisasies wat betekenisvolle werk met uiters beperkte hulpbronne verrig.
“Die kroon trek mense se aandag en dis wat ek met daardie aandag doen, wat saak maak,” sê sy.
Kirstie vertrek in November vir sowat sewe dae na Suid-Afrika om Namibië by HOPE Journey International te verteenwoordig, 'n bemagtigingsinisiatief wat deur Acting Hope bestuur word. Laasgenoemde is ‘n nie-winsgewende organisasie wat fokus op die bou van emosioneel sterk individue, asook die verbetering van die siklus van emosionele armoede in kinders en jongmense uit ‘n benadeelde agtergrond.
Anders as by 'n konvensionele skoonheidskompetisie, plaas die program diens en persoonlike groei voor kompetisie. Afgevaardigdes neem deel aan uitreike na gemeenskappe en ook liefdadigheidswerk, terwyl die vroue ook onder die vlerk van mentors geneem word en leierskapsvaardighede bou. Die finale vind eers na die week van diens, mentorskap en opleiding plaas.
Vir Kirstie is haar doel nie om ‘n nuwe liefdadigheidsorganisasie met haar terugkeer te begin nie. Sy wil haar platform gebruik om die werk te versterk wat reeds oraloor gedoen word, deur mense wat wil help te verbind met organisasies wat dit nodig het.
“Ek wil hê die persoon wat sê: ‘Ek wil help, maar ek weet nie waar om te begin nie,’ moet die organisasie kan vind wat sê: ‘Ons het hulp nodig,’” verduidelik Kirstie.
Kirstie het reeds haar internasionale inskrywingsgeld verseker en is besig met voorbereiding vir die koste om Namibië te verteenwoordig.
Vir haar gaan die reis minder daaroor om na Suid-Afrika te reis, maar meer oor die geleentheid om 'n Namibiese storie na 'n internasionale verhoog te bring, sê Kirstie.
“Ek vra Namibië om te help om een van sy stemme te stuur - ’n vrou wat nog baie het om te leer en wat wil dien. Wat wil terugkeer huis toe met meer kennis, sterker leierskapsvaardighede, nuwe konneksies en ’n selfs groter vermoë om ander te help,” sê Kirstie.
Intussen werk sy onverpoos aan haar nuwe missie om ‘n bietjie hoop in ‘n boks aan mense en families te verskaf wat hulp nodig het met daaglikse lewensbenodighede soos ‘n tandeborsel en tandepaste.
“Ek het tans vyf mense en families wat werklik ‘n bietjie hulp nodig het. Hulle probeer, hulle werk en doen die daaglikse lewe net soos die res van ons, maar soms is dit eenvoudig moeilik om dit tot die einde van die maand te maak,” sê Kirstie. Haar hoop is om kos- en pakkies met noodsaaklikhede saam te stel wat uiteindelik na behoeftige mense oraloor Namibië gestuur kan word. Hiervoor het sy skenkings van blikkies en nie-bederfbare kos, pasta, rys, mieliemeel en ander droë produkte, toiletware, sanitêre doekies, tandepasta en -borsels, seep en wasmiddels, asook daaglikse huishoudelike noodsaaklikhede nodig.
“Jy hoef nie baie te skenk nie. ‘n Pakkie pasta, ‘n blikkie kos of ‘n koekie seep maak saak. Vir my is die doel eenvoudig - kom ons vul vyf bokse. Kom ons help vyf huishoudings. Kom ons gee vyf mense net die kans om asem te kan skep, ‘n bietjie hoop,” sê Kirstie.
Want om iemand te help, beteken nie altyd dit moet groot of baie wees nie. Soms begin dit deur seker te maak daar is ‘n blikkie kos in die kas en tandepasta in die badkamer, sê sy.
Besighede en verskaffers kan in grootmaat skenkings doen en waar gepas sal groter hoeveelhede omsigtig verdeel word om meer huishoudings ‘n blaaskans en hoop te kan gee. As jy betrokke wil raak, stuur ‘n e-pos na [email protected] of kontak haar by 081 806 9777. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie