‘As ek kuns maak, maak ek iets werklik’

Iréne-Mari van der Walt
Hoewel die kunstenaar Pieter Basson sê hy ervaar nie die denkbeeldige stemme wat ’n tipiese simptoom van skisofrenie is nie, glo hy tog dat sy ­diagnose ’n impak op sy kuns het.

“Ek kan myself soms hoor verf of hoor teken. Ek kan hoor hoe ek lyne maak op papier of iets verf,” vertel Pieter.

Skisofrenie is behandelbaar, maar Pieter sê dit kan soms moeilik wees.

“Medikasie is ’n taai toffie. Dit moet net reg wees en mens kry dit nie altyd reg nie,” sê hy.

Sy kreatiwiteit help hom om met sy skisofrenie saam te leef.

“Mens moet kreatief besig wees en met jou hande iets doen en iets maak. Dit help ’n mens se verstand ongelooflik baie. Soms dink ek oor mens se verstand en hoe mens so geruk kan word deur iets wat gebeur het dat jy sulke toestande ontwikkel, maar ek weet wanneer ek kuns doen maak ek iets wat werklik is. Dit is daar – ek kan dit sien, jy kan dit sien en ek kan daaraan vat,” sê hy.

Tans verkoop Pieter poskaarte met afdrukke van sy kuns om geld in te samel, maar hy sê hy hoop om weer in die somermaande ’n solo-uitstalling te hou. “Ek wil volgende jaar weer ’n uitstalling hou met heel nuwe werke – ek is nog besig om daardie planne te beraam, maar ek wil dit beslis in die somer hou wanneer mense bietjie meer uitkom in die aande,” sê hy.

Indien daar versoeke vir poskaarte is, ontvang Pieter boodskappe by die Nasionale Kunsgalery van Namibië en die Namibiese Kunstevereniging.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer