Arandis stop vervoer van giftige afvalstowwe
Die dorpsraad van Arandis het sy voet neergesit teen die vervoer van gevaarlike, giftige afvalstowwe deur die dorp.
Die raad het ook gewaarsku dat dié praktyk mense se lewens in gevaar kan stel en die visie vir groen ontwikkeling ondermyn.
Die dorpsraad se regsverteenwoordigers, Metlaw Attorneys and Notaries, het in ’n brief gedateer 19 Januarie 2026 aan Namwaste se besturende direkteur, Riaan Vermeulen, duidelik gemaak dat die dorpsraad “eenvoudig nie kan toelaat dat gevaarlike, giftige afvalstowwe, wat moontlike lewens- en ernstige gesondheidsrisiko’s vir sy inwoners inhou, deur sy dorp beweeg nie”.
Die raad het gesê dat hy Arandis op ’n proaktiewe manier van ’n myndorp na ’n toonaangewende groen stedelike en nywerheidsone-dorp in Namibië dryf. Dit is gebaseer op grootskaalse hernubare energie om groen waterstof, groen staal, groen-gebaseerde chemikalieë en groen tegniese komponente te vervaardig.
Namwaste se beoogde vervoer van gevaarlike, giftige afvalstowwe deur Arandis hou glo ’n ernstige bedreiging vir volhoubare doelwitte en beleggings in.
Volgens die brief is Arandis se dorpsraad hewig teen die konstruksie van die gevaarlike, giftige afvalbestuursterrein, wat slegs 15 km van Arandis se middedorp geleë is, gekant.
“Die raad het op 14 November 2024 besluit dat hy nie toestemming sou gee vir die stortingsterreinprojek vir gevaarlike en giftige afval deur Rent-a-Drum [waarvan Namwaste blykbaar ’n filiaal is] in sy jurisdiksiegebied nie,” luidens die brief.
“Hierdie resolusie is direk en korrek gebaseer op die risiko’s vir mense se lewens, openbare gesondheids- en veiligheidsrisiko’s, die nadelige impak op die waarde van eiendomme, die verlies aan werksgeleenthede en omgewingsrisiko’s.”
“Ons kliënt was nie en sal nie ingelig wees (will not be privy to) oor die fasilitering van enige gevaarlike en giftige afvalstortingsterrein wat ’n gevaar vir die lewens, gesondheid en welstand van sy inwoners inhou nie,” lui die brief.
Metlaw Attorneys het verder opgemerk dat “geen toegang hoegenaamd aan Namwaste deur Arandis verleen sal word vir die vervoer van algemene en gevaarlike giftige afval en/of voorafbehandelde giftige vloeibare afval en/of vloeibare arseenafval en/of laevlak- radioaktiewe afval nie”.
“Ons kliënt is van voorneme om hierdie resolusie met die hulp van die owerhede af te dwing. Ons kliënt sal ook geen elektrisiteits- en/of watervoorsiening aan u gevaarlike, giftige afvalprojek fasiliteer nie,” het die regsverteenwoordigers gemaan.
Die brief het ook ’n alternatiewe roete voorgestel.
“Die Trekkopje-pad vanaf die B1-snelweg val nie binne die dorp Arandis nie en gee Namwaste volle toegang tot sy gevaarlike, giftige afvalprojek sonder om die lewens van inwoners van Arandis in gevaar te stel en/of skade aan die dorp Arandis te veroorsaak.”
“Daar is dus ’n geskikte alternatiewe roete, en julle word versoek om daarvan gebruik te maak om die risiko vir menslike lewens en openbare gesondheid en veiligheid in Arandis te verhoed.”
“Menselewens en waardigheid is heilig vir ons kliënt en sulke regte van sy inwoners sal te alle tye beskerm word.
“Dié menseregte sal nie op die altaar van finansiële gerief geoffer word nie,” het die brief afgesluit.
Die uitvoerende hoof van die Arandis-stadsraad, Stanley Norris, en Vermeulen is om kommentaar genader, maar hulle het teen druktyd nog nie gereageer nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie