Arandis gaan gebuk onder eiendomsbelasting
Inwoners van Arandis is in rep en roer oor die eiendomsbelasting wat deur die munisipaliteit gehef word.
Beweerde berekeningsfoute lei glo tot voortdurend foutiewe munisipale rekeninge wat eienaars van eiendomme elke maand ontvang.
Ná die assessering van eiendomswaardasies in Julie 2024 op Arandis, wat eers vanaf 1 Februarie 2025 geïmplementeer is, is sommige huiseienaars se waardasies op grond en verbeterings aan hul huise en/of geboue aansienlik gewysig.
’n Ontleding van Arandis se eiendomswaardasies “het skokkende werklikhede aan die lig gebring rakende die verbeteringswaardasiebedrae per vierkante meter van 2024.” Dit is volgens ’n brief van Berend Diergaardt.
Hy meen die waardasiebedrae van veral verbeterings op eiendom op Arandis is, “die spreekwoordelike wolf in die skaapkraal”.
WEDUWEE
Onder die 12 eienaars se rekeninge wat hy ontleed het, is “’n arm weduwee wie se verbeteringswaardasie in 2024 met ’n skokkende 204,9% gestyg het in vergelyking met 2019 se bedrag. Dit ten spyte daarvan dat die vloeroppervlak steeds dieselfde is as toe Rössing dit in die 1970’s op ’n betonblad gebou het”.
Volgens Diergaardt sluit ander onreëlmatighede ’n belastingverhoging van 146,46% op ’n eiendom in waar geen verbeterings aangebring is nie.
“Een eienaar se waardasie op verbeterings het N$224 350 beloop, met ’n vloeroppervlak van 155 vierkante meter teen ’n assesseringsprys van net N$1 447 per vierkante meter.
“Dit is in teenstelling met ’n ander eienaar met soortgelyke verbeterings aan sy mynhuis, waarvan die waardasie N$561 050 beloop het met ’n kleiner vloeroppervlak van 137 vierkante meter teen ’n verstommende bedrag van N$4 095 per vierkante meter,” aldus Diergaardt se ondersoek.
“Beide hierdie voormalige mynhuise was in dieselfde fisiese toestand op die dag van die waardasie,” het hy aangevoer.
Die goedgekeurde en gepubliseerde waardasiekoerse vir Arandis vir 2024 is N$0,020133 vir erwe en N$0,011410 vir verbeterings.
DORPSRAAD TJOEPSTIL
Vrae wat op 25 Februarie aan die munisipaliteit se uitvoerende hoof en die finansiële uitvoerende beampte gestuur is, en wat herhaaldelik en weekliks opgevolg is, bly tot op hede onbeantwoord.
Intussen het die jongste verslag van die ouditeur-generaal vir die boekjaar Junie 2022 tot Junie 2023 vir die dorp uitdruklik beklemtoon dat daar verskille is tussen die goedgekeurde eiendomsbelastingkoers, soos in die Staatskoerant gepubliseer, en dié wat deur die munisipaliteit gehef word.
Die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling is verantwoordelik vir die toesig oor plaaslike owerhede in Namibië. Dit sluit onder meer in om te verseker dat munisipaliteite aan die wettige heffing van eiendomsbelasting, soos bevestig deur uitvoerende direkteur Wilhelmine Shivute, voldoen.
Ten spyte van die langdurige onreëlmatighede rakende eiendomsbelasting op die dorp, dra die ministerie geen kennis daarvan nie.
“In hierdie stadium het die ministerie geen formele verslag rakende foutiewe eiendomsbelasting op Arandis ontvang nie,” het Shivute gereageer.
KLAGTES
Indien klagtes van hierdie aard ontvang word, sal die ministerie met die dorpsraad saamwerk om die feite vas te stel en te verseker dat enige nodige regstellende stappe gedoen word, het Shivute bygevoeg.
Waar tekortkominge geïdentifiseer word, moet die betrokke munisipaliteit eiendomswaardasies hersien, rekeninge aanpas en verseker dat die korrekte eiendomsbelasting toegepas word, het Shivute verduidelik.
Eienaars wat glo hulle word verkeerd belas, moet formeel besware by die dorpsraad indien en kan dan, indien die probleem nie opgelos word nie, die ministerie nader vir verdere hersiening in ooreenstemming met toepaslike wetgewing, aldus Shivute.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie