Angolese straatkinders geniet ‘hoogste aandag’

Bilaterale gesprekke aan die gang
Albei regerings hanteer die nood van Angolese straatkinders as ’n prioriteit, met kinderhandel onder die kwessies wat geopper is, sê die regering.
Tuyeimo Haufiku

Eerste minister Elijah Ngurare sê die situasie rakende Angolese kinders wat op Namibiese strate bedel en goedere verkoop, geniet aandag op hoë vlak van beide die Namibiese en Angolese regerings. 

Volgens Ngurare is bilaterale samesprekings reeds aan die gang.

Die eerste minister het verlede week in die Nasionale Vergadering gesê drie tot vier ministeries werk aan die kwessie en dat die regering meer besonderhede sal verskaf namate die gesprekke vorder.

“Daar is bilaterale samesprekings oor die saak,” het hy die wetgewers verseker.

“Ons waardeer u besorgdheid en dié van die Namibiese volk. Dis ’n saak wat die hoogste aandag van die twee regerings geniet en ons sal terugvoer gee,” het Ngurare gesê.

Volgens hom vorm kommer oor kinderhandel deel van die voortgesette gesprekke, aangesien dit lyk of sommige kinders deur volwassenes gebruik word om te bedel, wat vrae laat ontstaan ​​oor moontlike mensehandel.

“Die samelewing voel tot ’n mate ongemaklik oor die manier waarop hierdie kinders optree. Dit lyk ook of daar, wanneer hulle daar buite is, iewers ’n volwassene is wat hulle gebruik om te gaan bedel,” het Ngurare gesê.

"Ons sal mettertyd die besonderhede bekend maak, of die stappe wat gedoen word om die saak te takel en wat beide kinderhandel en ander aspekte betref,” het Ngurare gesê.


INTERNASIONALE KOMMER

Ngurare het gereageer op ’n vraag van Lilian Lutuhezi, ’n parlementslid van die Independent Patriots for Change (IPC), wat ’n opdatering wou hê oor samesprekings tussen die twee regerings.

Lutuhezi het kommer uitgespreek oor die toenemende aantal Angolese kinders wat langs Windhoek se paaie gesien word, asook die risiko’s van uitbuiting en mensehandel.

Haar vraag volg op kommer wat uitgespreek is in ’n verslag van Amnesty International oor die impak op menseregte van verplasing weens droogte vanuit suidelike Angola na noordelike Namibië.

Die verslag beklemtoon die kwesbaarheid van ontheemde vroue en kinders, insluitend struikelblokke ten opsigte van gesondheidsorg en onderwys, onvoldoende toegang tot behuising, voedsel en water, ’n gebrek aan dokumentasie, en risiko’s van uitbuiting en mensehandel. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer