• Tuisblad
  • Plaaslik
  • Angel Animals Home het ’n hart vir Henties se troeteldiere

Angel Animals Home op Hentiesbaai sê verskeie uitdagings staar hulle in die gesig. Foto verskaf
Angel Animals Home op Hentiesbaai sê verskeie uitdagings staar hulle in die gesig. Foto verskaf

Angel Animals Home het ’n hart vir Henties se troeteldiere

Leandrea mouers
Die Angel Animals Home op Hentiesbaai het sy steun uitgespreek vir ’n N$15-heffing wat vir rondloperdiere in dié dorp geoormerk is.

Dié heffing wat deur die munisipaliteit ingestel is, sal glo gebruik word om ’n voertuig te verskaf en om ’n honde-inspekteur aan te stel om die dorp se rondloperdiere te beheer. Inwoners het egter gemengde gevoelens oor dié kwessie.

“Ons voel dit is ’n fantastiese inisiatief deur Hentiesbaai se munisipaliteit, wat broodnodig is en ’n reuseverskil sal maak.

“Ons hoop regtig ons gemeenskap ondersteun dit en dat ander munisipaliteite hierdie goeie voorbeeld sal volg,” het Natasha en GP Britz van Angel Animals Home gesê.

Hulle het verduidelik dat hulle nie aandag kan gee aan klagtes oor dieremishandeling, siektes of beseerde diere wat nie behandeling ontvang nie. Ander brandpunte sluit in diere wat nie gevoer word nie, diere wat vasgeketting is en diere wat nie behoorlik gehuisves word nie.

“Angel Animals Home kan hierdie diere slegs help indien ’n gemagtigde beampte die stand van sake beoordeel en toelaat dat die dier geskut word.

“Ons word gereeld by die DBV [Dierebeskermingsvereniging] aangemeld aangesien sommige inwoners glo ons wil nie help nie. Hulle is egter onbewus van die feit dat wetgewing ons bedrywighede beperk en ons nie sonder ’n beampte se ondersteuning kan optree nie.”

HONDEKWESSIE

Tans het Hentiesbaai net een gemagtigde beampte wat kan help met kwessies wat met diere verband hou.

“Ons voel dit is in die dorp se beste belang om meer munisipale personeel betrokke te hê aangesien baie werk nodig is om hondekwessies op Hentiesbaai te takel,” sê Natasha.

“Dit sluit sterilisering in om die groeiende populasie te beheer, mediese behandeling, inentings vir veiligheid en beamptes om die wette toe te pas.

“Daar is soveel wat die munisipaliteit kan doen om die diere en ons gemeenskap te help en ons moet hul pogings ondersteun.”

Angel Animals Home sorg tans vir 25 honde, waarvoor N$10 000 per maand aan hondekos bestee word, en 45 tot 50 katte waarvoor daar maandeliks sowat N$5 000 vir katkos betaal moet word.

“Die probleem met rondloperhonde en -katte op Hentiesbaai is erg. Talle troeteldiereienaars kom nie die wet na nie – honde word gelos om vrylik en dikwels in ’n haglike toestand rond te loop, [hulle] teël voortdurend aan en versprei siektes soos skurfsiekte.”

OMGEEMENSE

“Ongelooflike omgeemense in Hentiesbaai werk elke dag hard om straathonde te help. Hierdie ‘gemeenskapshelde’ voer net die honde wat hulle kan ondersteun, berei hulle voor vir sterilisering (met die hulp van Have-a-Heart) en sien om na hul mediese behoeftes.

“Angel Animals Home kan nie elke rondloperhond optel nie, daar is letterlik duisende en hierdie mense wat omsien na straathonde maak ’n merkwaardige verskil in hierdie desperate situasie.”

Ten spyte van die toewyding van ’n klein span versorgers, staar verskeie uitdagings steeds Angel Animals Home in die gesig, insluitend ruimte, finansiering en personeelbeperkings, wat hul vermoë om alle rondloperdiere te help, belemmer.

Hulle verskaf daaglikse etes, mediese sorg en aandag, maar sukkel om aan die groeiende eise te voldoen.

’n Groot kwessie is die afwesigheid van ’n permanente veearts op Hentiesbaai, wat dit moeilik maak om noodsaaklike mediese dienste aan te bied.

“Ons is geseënd dat Have-a-Heart en dr. Winterbach van Swakop Vet Clinic Angel Animals Home een keer per maand besoek.

“Hulle maak ’n groot verskil deur die troeteldiere van lae-inkomstegesinne in te ent en te steriliseer. Die eerste stap om ons gemeenskapsdiere te help, is om die eindelose aanteling deur sterilisasie te stop en om hulle in te ent om siektes te voorkom.”

MUNISIPALE SKUT

Talle troeteldiereienaars op Hentiesbaai kom uit lae-inkomstehuishoudings, wat dit vir hulle moeilik maak om basiese sorg vir hul diere te bekostig. Dit lei tot diere wat gereeld oorgegee word, verlaat word en ’n toename in ongesteriliseerde diere, wat die rondloperpopulasie vererger.

Die skuiling ondervind ook probleme met eienaars wat hondebeheerregulasies verontagsaam, wat honde toelaat om vrylik rond te loop en risiko’s vir ander diere en mense inhou.

Ten spyte van die gemeenskap se bereidwilligheid om diere aan te meld en te help, werk Angel Animals Home met beperkte hulpbronne, wat dit moeilik maak om op alle oproepe om hulp te reageer.

“Ons voel dat Hentiesbaai ’n munisipale skut nodig het. Ons het ons lewens toegewy aan die versorging van ongewenste, onversorgde en minderbevoorregte diere.

“Terwyl ons elke dier in nood wil help, is die werklikheid dat ons, soos elke reddingsentrum, deur sekere faktore beperk word.

“Dit is vir ons net so uitdagend en frustrerend soos vir mense wat bel om diere aan te meld of hulp nodig het met hul troeteldiere, wat ons dikwels nie kan verskaf nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 40° Rundu: 20° | 39° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 22° | 36° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 23° | 33° Gobabis: 24° | 34° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 18° | 32° Aranos: 21° | 36° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 17° | 31° Oranjemund: 15° | 22° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 24° | 41° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 19° | 38° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 23° | 36° Maputo: 24° | 41° Windhoek: 23° | 33° Cape Town: 16° | 21° Durban: 19° | 24° Johannesburg: 23° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 23° | 38° Harare: 21° | 36° #REF! #REF!